Bitter aalwynsap met ’n lekseltjie laventel gekook in ’n kastrol. ’n Huis vol laserstrale wat jou van enige terminale siekte kan genees.
Dit is maar van die verskeie boererate en vreemde, alternatiewe terapieë wat wildvreemde goedhartiges die afgelope week na my ouerhuis deurgebel het nadat dit in ’n nasionale tydskrif bekend gemaak is die kanker is terug.
Ek skryf in die eerste persoon vandag, omdat ek ’n Volksblad-joernalis is en omdat ek opdrag gekry het om almal van my interessante, dog dramatiese lewe te vertel en getuienis te lewer dat daar pas ’n wonderwerk met my gebeur het wat die hele ganse wêreld aan die gons het.
Ek’s ’n drama queen met ’n hippy se siel, wat ek van my ma geërf het.
Ek is op 18 Oktober 1980 op ’n reënerige dag in Bloemfontein gebore. Op 13-jarige ouderdom is ek met ’n gewas op my brein gediagnoseer.
Pyn is al wat ek nog ooit geken het, omdat die breingewas my monster-migraines gegee het.
Ek het geleer om met die pyn saam te leef.
Soms was ek sielsongelukkig, omdat die konstante hoofpyne my so verwyderd van almal laat voel.
Maar ek was nooit alleen in my pyn en verdriet nie. My wonderlike, liefdevolle ouers, Ryk en San-Marie Neethling, was altyd daar.
My beste maat en laatlamsussie, Jean-Marie, het nege jaar later haar opwagting in die Neethling-huis gemaak. Min wetend dat die klein feetjiekind met die ysblou oë my steunpilaar in my geveg teen die kanker later in my lewe sou wees.