Alles brand behalwe Bybels

Nelspruit – “Alles in die huis het uitgebrand behalwe die drie Bybels.”

Só vertel TJ Maré, direkteur van die Nelspruit Gemeenskapsforum (NGF), nadat een van hul huise vir haweloses die afgelope naweek afgebrand het.

Een van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit se wagte, Ruan Matthee, het Vrydagaand omstreeks 22:40 gesien daar kom baie rook by dié huis in Marlothstraat uit.

Die brandweer is ontbied, maar dit was te laat.

TJ sê dit wil voorkom of ’n kers in een van die kamers ’n gordyn aan die brand gesteek het en “binne ’n japtrap het alles afgebrand”.

Die 13 inwoners het van die rook wakker geword, van hul besittings probeer gryp en uit die huis gevlug. Hoewel hulle niks kon red nie, is niemand in die voorval beseer nie.

“Toe die ondersoek (na die oorsaak van die brand) begin, het ons gevind dat nie één van die drie Bybels in die huis enigsins gebrand het nie. Dis sonder twyfel bonatuurlike, Goddelike ingryping en ’n bewys dat selfs God se Skrif, hoewel op papier, altyd sal bly staan,” sê TJ.

Selfs die mat onder die Bybels het gesmelt, maar behalwe vir ’n bietjie rookskade het die Bybels feitlik niks oorgekom nie, sê hy.

Naranda Nell – Beeld (Foto : Beeld

Scroll to Top