Hoe begin mens getuig van iets so groots, so wonderliks, so asemrowend as wat die pasafgelope naweek gebeur het in ons land, op ‘n nederige boer se plaas, in die hartjie van Natal. Mense, ek kan julle nie als beskryf nie, woorde kan nie vasvat wat gebeur het nie, foto’s is te min! Nogtans sal ek probeer en hoop dat julle harte, siele en gees so geraak sal word soos wat ek seker is 60 000 mans s’n geraak was die naweek. Die Here Leef!!! Daardié 3 woorde kan julle maar aan vashou, want dit is waar!!
Die van julle wat nie die Rapport gister gelees het nie en dus vir die van julle wat skaamtelik onbewus was en onbewus is oor wat ek hier skrywe sal ek dit dan kortliks verwoord en saamvat. (Net so tussen ons, die Rapport het nie eers ‘n tiende saamgevat wat regtig gebeur het nie) Angus Buchan, die skrywer van Faith like Patatoes, ‘n groot Christen, nederig, liefdevol en Godsvreesend, het hierdié naweek, met die bystand van menigte mede-gelowiges, ‘n sametrek vir mans van Suid-Afrika op sy plaas gehou. Om dit verder terug te neem, dit het begin ‘n paar jaar terug met 14 mans, toe 240 mans, daarna 1200, verlede jaar het hul vir 4000 of 5000 voorsien toe daag daar 7000 op, vanjaar het hul vir 30000 mans voorsien… mense, toe kom daar 60000! Die konferense – Mighty Men’s Conference 2008, Greytown, Shalom farm.
So kom tel Kurt en Corné my Donderdag middag ongeveer 17h45 op. Ons besef dit is ‘n lang afstand wat gery moet word, maar gelukkig het Corné se pa sy kar beskikbaar gestel, ‘n Opel ek weet nie wat nie, maar die ding ry nogals lekker. Die draadloos word oopgedraai en die twee pakke CD’s word uitgehaal. Soveel Gospel CD’s het ek nog nie bymekaar gesien nie. Ek besef dadelik, hier ry ek in die regte kar. Natuurlik is Kurt en Corné totale vreemdelinge vir my, maar ons vind dadelik aanklank bymekaar, want ons is broers en oppad om Die Here te gaan ontmoet.
Ons is nog nie eers verby die tonnel nie, en Kurt se maag begin grom. Hy begin praat van kakkerlakke en al wat ‘n ander ding is wat sy lewe terroriseer, goed wat liefs nie in hierdié brief geuiter moet word nie. Ek dink bymyself, ‘n man wat so openlik oor kakkerlakke kan praat en nogsteeds honger is, moet nogals, wel, honger wees. Hy maak sy verskeerde Pick-N-Pay coolbag oop en so waar, Die Here het voorsien. Toebroodjies met ham, kropslaai en tamaties, samoosas, frikkadelle, vleispasteitjies, en dan sy gunsteling – Tjoklits. Dat my tande nie uitgeval het na die naweek nie is ‘n wonderwerk op sy eie. Heel beskaafd begin hy links en regs die goed uittedeel en soos ‘n goed gemanierde Afrikaner seun maar is, kan mens mos nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie, jy sê maar dankie en begin eet! Corné, so beskaafd soos wat hy is, peusel maar so saam, maar sy oë is diep gevestig op die pad wat voorlê. Dis nou al donker en die trokke loop lang spore voor ons.