Hoe begin mens getuig van iets so groots, so wonderliks, so asemrowend as wat die pasafgelope naweek gebeur het in ons land, op ‘n nederige boer se plaas, in die hartjie van Natal. Mense, ek kan julle nie als beskryf nie, woorde kan nie vasvat wat gebeur het nie, foto’s is te min! Nogtans sal ek probeer en hoop dat julle harte, siele en gees so geraak sal word soos wat ek seker is 60 000 mans s’n geraak was die naweek. Die Here Leef!!! Daardié 3 woorde kan julle maar aan vashou, want dit is waar!!
Die van julle wat nie die Rapport gister gelees het nie en dus vir die van julle wat skaamtelik onbewus was en onbewus is oor wat ek hier skrywe sal ek dit dan kortliks verwoord en saamvat. (Net so tussen ons, die Rapport het nie eers ‘n tiende saamgevat wat regtig gebeur het nie) Angus Buchan, die skrywer van Faith like Patatoes, ‘n groot Christen, nederig, liefdevol en Godsvreesend, het hierdié naweek, met die bystand van menigte mede-gelowiges, ‘n sametrek vir mans van Suid-Afrika op sy plaas gehou. Om dit verder terug te neem, dit het begin ‘n paar jaar terug met 14 mans, toe 240 mans, daarna 1200, verlede jaar het hul vir 4000 of 5000 voorsien toe daag daar 7000 op, vanjaar het hul vir 30000 mans voorsien… mense, toe kom daar 60000! Die konferense – Mighty Men’s Conference 2008, Greytown, Shalom farm.
So kom tel Kurt en Corné my Donderdag middag ongeveer 17h45 op. Ons besef dit is ‘n lang afstand wat gery moet word, maar gelukkig het Corné se pa sy kar beskikbaar gestel, ‘n Opel ek weet nie wat nie, maar die ding ry nogals lekker. Die draadloos word oopgedraai en die twee pakke CD’s word uitgehaal. Soveel Gospel CD’s het ek nog nie bymekaar gesien nie. Ek besef dadelik, hier ry ek in die regte kar. Natuurlik is Kurt en Corné totale vreemdelinge vir my, maar ons vind dadelik aanklank bymekaar, want ons is broers en oppad om Die Here te gaan ontmoet.
Ons is nog nie eers verby die tonnel nie, en Kurt se maag begin grom. Hy begin praat van kakkerlakke en al wat ‘n ander ding is wat sy lewe terroriseer, goed wat liefs nie in hierdié brief geuiter moet word nie. Ek dink bymyself, ‘n man wat so openlik oor kakkerlakke kan praat en nogsteeds honger is, moet nogals, wel, honger wees. Hy maak sy verskeerde Pick-N-Pay coolbag oop en so waar, Die Here het voorsien. Toebroodjies met ham, kropslaai en tamaties, samoosas, frikkadelle, vleispasteitjies, en dan sy gunsteling – Tjoklits. Dat my tande nie uitgeval het na die naweek nie is ‘n wonderwerk op sy eie. Heel beskaafd begin hy links en regs die goed uittedeel en soos ‘n goed gemanierde Afrikaner seun maar is, kan mens mos nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie, jy sê maar dankie en begin eet! Corné, so beskaafd soos wat hy is, peusel maar so saam, maar sy oë is diep gevestig op die pad wat voorlê. Dis nou al donker en die trokke loop lang spore voor ons.
Na ‘n lekker 4ure se slaap spring ons weer in die pad. Ek neem aan dit moes tussen 5 uur en 6 uur die oggend gewees het, want ek is amper seker die son het nog nie geskyn nie. Die keer is dit my beurt om platejoggie te speel, Kurt wil nou slaap en lê lekker uitgestrek op die agterste sitplek. So kort as wat daai sitplekkie is, so lekker slaap hy as jy moeg is! Moet nie ‘n fout maak nie, die voorste sitplek slaap net so lekker. Respek vir Corné, 7 ure gistraand op die pad, vanoggend springlewendig en is die enigste “migthy man” tussen die 3 van ons. Hy moes ‘n trok drywer geword het. Ek moet sê, tussen al die gekonsentreerdery op die pad weet hy nogsteeds presies wanneer ‘n CD deurgespeel het, want so baie CD’s het ek nog nooit omgeruil nie.
Bloemfontein gekom en hier is die eerste bewys van ‘n saamtrek. Kry manne van Worcester daar, en jy kan sien waarheen hul oppad is. Mighty Men’s Conference!!! Nou begin ons opgewonde raak. Dinge word voorspel, visioene word gesien, liedere word gesing. Ons is oppad na ‘n landsveranderinge gebeurtenis. Die pad van hieraf deur na Harrismith is maar bra vervelig, Ek en Kurt maak om die beurt ‘n skuif oor wie kan agter lê en wie kan plate joggie speel. Corné is min gepla, want Hy kon maar net sowel ‘n trok drywer geword het.
Natal ingekom, af teen die pas en die tannie op die GPS raak mal. Kurt moet homself bedwing, en ‘n wag word voor sy mond geplaas, want die tannie laat ons maak verdwaal. Erens het ons ‘n afdraai gemis en is oppad Escourt toe. Dis nie waar ons wil eindig nie, ons wil Greytown toe. Beskuldigings word heen en weer gegooi, en na ‘n lang sessie word besluit dat ons die keer die tannie op die GPS gaan vertrou. Ons kry die afdraai, maar teen die tyd al ‘n halfuur verloor. Op die regte pad gekom, nog 90km van Greytown en ons begin al agter te kom hier is moeilikheid, want nou is daar ‘n stoet karre wat ‘n helikopter nie eers die einde van sou sien nie. Gelukkig ry ons nog teen ‘n respektabele spoed, so 80-90 km/h.
Dis nou 3h en ons ry Greytown binne. Dis ‘n pragtige dorpie, die mense van die dorp het hul grasperke mooi gesny vir die magdom mense wat kom, ons weet, ons het baie tyd daar spandeer, want dit het ons 3 ure geneem om vanaf Greytown na Shalom (waar die konferensie was) te ry, en dit is net ‘n skamele 10km uitmekaar.
Uiteindelik daar aangekom slaan ons vinnig tent op, parkeer die kar op ‘n plek waar dit die mins moontlike vasgeparkeer gaan word, langs die toilette!!! Dis nou 19h00 en die byeenkoms moes al 17h00 begin het. Daar staan nog kilometers en kilometers karre wat hul beurt afwag om ook in te kom. Ons hardloop na die groot tent. Die tent is reeds vol. Dis die grootste tent in die wereld, dis nog net 3 keer van te vore opgeslaan, Dit kan 30 000 mense sit, nog net 2 keer in Europa en dan een keer in Suid-Afrika opgeslaan. Die keer was die 4de keer in die Geskiedenis. Die rede hoekom so min, want dit kos pleinweg net te duur om die tent te huur. Oom Angus het alles gratis gekry, Die Here het voorsien, Die Here het betaal.
Het jul al ooit soveel mans hoor saam sing. Het jul al ooit soveel mans in Suid-Afrika as eenheid sien saamstaan. Dit was 19h00 die aand. Daar was samehorigheid. Oom Angus het nog nie eers begin praat nie, daar het nog geen orkes begin speel nie, maar reeds het die ramshorings begin blaas. Die oorwinnings liedere het begin opklink. ‘n Wysie word baie saggies oor die luidsprekers gespeel, sonder enige begeleiding begin die menigte vanself te sing. Dis seker nou al 35000 mans binne die tent. Ongelooflik. Die orkes begin te verskyn, die aankondigings word gedoen, die menigte gaan mal. Die behoefte om meer en meer van ons Here Jesus te hê is so groot. Daar is seker nou al 40000 mans in die tent, Oom Angus word voorgestel. Die hele tent staan op. AMEN!!!!! word gebulder, 40000 stemme terug – AMEN!!! Wat ‘n openbaring. Die Here sorg. Oom Angus begin sy preek. Nederig is die oom, liefdevol, ‘n passie vir Die Here, gelowig, jy kan Jesus sien deur hom, die lig skyn helder. Dis nou al 22h00 Vrydag aand en nogsteeds kan jy nie die einde van die ligte van die karre sien wat nogsteeds besig is om in te kom nie.
Geen maar geen bemarking is gedoen vir die konferensie nie, net gebede, net ‘n versoek van die Here af om so sametrek te hou. Daar is begroot en voorsien vir 30000 mans, 6 maande terug was daar nog niemand. Die mense het gesê oom Angus is mal, hy het bly glo in die Een wat voorsien. Aan die einde van die konferensie was daar gesê dat daar 60000 mans was. Die Here het voorsien. Geen bemarking, geen onkostes, geen opraak van bronne. 60000 mans van alle dinominasies, alle rasse, alle kulture. 60000 mans wat opgeroep is om, deur die Here wat hulle lei, ‘n verandering in hierdié land van ons te bewerkstellig. 60000 Huisgesinne wat geraak gaan word. 60000 werksplekke wat geraak gaan word. Daar het ‘n oom doodgegaan hierdié naweek. Hy was vir 10 minute lank vir alle praktiese doeleindes dood, 60000 mans het gebid en hy is uit die dood opgewek. Hy kon vir sy nabye vriende en familie totsiens sê. Ek hoor hy is daarna weer oorlede. Daar is GELOOF mense. Daar het ou ooms hulle harte vir die eerste keer vir Die Here gegee hierdié naweek. Daar is HOOP! Daar is 60000 mans wat saamgestaan het. Daar is LIEFDE! “En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!” 1 Kor. 13:13 Mense, is dit nie groot nie, is ons God nie groot nie? Hy is!!!
Die Here leef en daarom hoef ons nie meer bang te wees nie. Maak nie saak wat gebeur nie, ons lewe in ‘n wen-wen situasie. Of ons nou lewe, lewe ons vir Christus (al sy beloftes, al sy liefde, al sy genade), en as ons sterwe dan is dit ‘n wins (want ons gaan hemel toe). Mense, hoe wonderlik is dit nie? Hoe kan ons hierdié evangelie wat Die Here Christus aan ons geopenbaar het vir onsself hou. Hy is ons Redder, ons Verlosser, ons Saligmaker. Kom ons gaan met liefde uit na die nasies, na jou medemens, ja, na jou buurman oor die straat. Gaan na mekaar in nederigheid en in liefde. Was mekaar se voete en sien hoe die wereld rondom jou gaan verander. Ek is lief vir julle almal!
Groete en seën wense
Arno