PhilipstownElke keer wat ek deur hierdie dorpie gery het, het ek ‘n innige gevoel van jammerte beleef vir die mense wat daar gewoon het. Ek het kliënte in De Aar gehad en dit het meegebring dat ek gereeld deur Philipstown moes ry.


Ek kon die gevoel wat ek beleef het nie verklaar nie, en dit was op ‘n tydstip wat ons baie aktief betrokke was in ‘n sangbediening. ‘n Hartsbegeerte het begin ontwikkel om op die dorpie te bedien. Soos die tyd aangeloop het, het die gevoel nie weggegaan nie en die Heilige Gees het ons as gesin gelei en ons het begin om  voorbereidings te tref en voorbidding te doen om daar te gaan bedien. Wat ons gedoen het was om pamflette te druk wat dit adverteer het en die idee was om dit te versprei in die dorp self.



Ek het met die plaaslike munisipaliteit reëlings getref om die stadsaal te huur, maar die enigste dae wat hulle tot hulle beskikking gehad het was die betrokke Vrydag- en Saterdagaande. Die ander dae was dit gebruik deur ouens wat blykbaar disko’s daar gehou het.


Ons het seker so twee of drie naweke voor die beoogde naweek deurgery en letterlik straat op en straat af by al wat huis was pamflette in posbusse gelos. Vir die girls wat toe nog redelik klein was, was dit natuurlik groot pret gewees en hulle het soos wafferse strandlopertjies op en af getrippel.


Ons is so skuins na 1 uur se kant die middag daar weg, en ons motor het skaars die dorp verlaat of ek kry my eerste oproep van die plaaslike Pastorie-moeder. “Wie is jy en wat wil jy kom doen?” val sy weg. 


“Ek wil maar net doen wat ek voel die Here wil hê ek moet doen”


“Maar alles wat hier gedoen word, reël ek, en ek weet nie waar gaan jy mense kry wat op ‘n Vrydag- en Saterdagaand dit sal bywoon nie. Almal is papdronk oor naweke en ons sukkel selfs om 40 mense bymekaar te kry vir ‘n ete in die middel van die week, rammel sy voort”Nou ja, na daardie oproep kry ek die volgende een:


“Ou Broer, ek wil jou nie mismoedig maak nie, maar hierdie dorp reageer nie goed op sulke tipe geleenthede nie. Ek wil nie hê jy moet teleurgestel wees as jy nie ‘n goeie reaksie kry nie, berei jou maar voor daarop”.


Dis die plaaslike Pastoor. Aan hom kon ek darem meedeel dat nommers nie belangrik is nie, en ek het net eintlik een persoon nodig om voor te sing (obviously kan mens seker nie vir jouself sing as jy nie in die stort is nie..)


So oppad terug Bloem toe, ry ons deur Petrusville en ons besluit om sommer ‘n paar pamflette by ‘n paar winkels op te sit. Dis juis by een van hierdie winkels waar die man my aangetree het en so blatant eerlik was (lees hier die storie as jy dit nie ken nie)


Terug by die huis kry ek ‘n oproep van iemand in Petrusville wat betrokke is by ‘n omgee groep waar hulle voorbidding en selgroepe ens reël. Sy vra of ek nie die  Maandag reeds wil deurkom en bedien by Keurtjieskloof, net om die draai van VanderKloof en so 15 km buite Petrusville. No Problem.  Toe word Dinsdag, Woensdag en Donderdag volgeboek. Wonderlik!


Hierdie week was vir my ‘n great leerskool gewees.


Die aand in Keurtjieskloof was die plek gepak. Daar was meer ‘n karnaval atmosfeer as ‘n evangelisasie atmosfeer!  Die sangbediening het daarom juis nie lekker afgegaan nie, en ek het nie regtig veel verwag nie….foutjie!


Na my laaste liedjie maak ek ‘n uitnodiging dat as iemand ‘n behoefte het aan gebed, hy/sy net kan agterbly. Toe bly die helfte agter!


Ek dog: “Wat gaan aan hier? Het die mense nie lekker gehoor nie?”


“Julle almal wil gebed hê?”


“Ja”


Ek deel die mense in twee groepe op, die een groep wat gebed benodig vir genesing en al die ander in die 2de groep.


Toe begin die Here te werk. Sang het eintlik niks met hierdie byeenkoms uit te make gehad nie. Dit was so lekker om daar in God se teenwoordigheid te kon beweeg.


Net daarna kom die ander aan die beurt. “Oh man, daar was van hulle wat regtig siek was. Ouens wat doof was, maagsere, rugprobleme en self ‘n persoon wat na ‘n ongeluk baie pyn verduur het in haar bene en waar die bene styf was en nie kon buig nie”


Die Here raak daai manne, vroue en kinders aan daardie aand dat ek verbaas staan om te sien wat alles daar gebeur. Wow, dit was ‘n belewenis!


Ek kan onthou hoe ek een van die ouens die volgende dag raakgeloop het, hy was so ‘n stillerige man, nie baie gepraat nie (Hy was die een met die akute maagseer). Ek vra hom hoe gaan dit. “Niks meer pyn nie”  Wonderlik Here Jesus!


Ek loop op wolke.


Die volgende aand was ek in Vanderkloof se stadsaal en ek kan onthou hoe die Here deur Sy Gees mense tydens die bediening aangeraak het. Dis iets om te beleef van agter ‘n mikrofoon terwyl jy sing. Jy kan sien hoe die Here iemand op daardie oomblik omdop en uitboul. As Vader iemand met sy liefde aanraak is niks en niemand bestand daarteen nie. Punt. Daardie aand het die Here spesifiek deur sang beweeg.


Die volgende oggend word ek opgekommandeer na een van die skole.


What a disaster! (volgens my) Die kinders bly nie vir een oomblik stil nie. Die heeltyd praat hulle onderlangs en ek was bitter dankbaar toe dit verby was. Ek is emosioneel gedreineer en moeg.


Net daarna lig die vrou my in dat die Xhosa skool gevra het dat ek asb ook soontoe moet kom. My moed sak eintlik want ek voel gedaan.


“Praat die mense Afrikaans of Engels”


“Nee die kinders verstaan net Xhosa”


“Wat, is jy ernstig?”


“Die onderwyders is wel tweetalig”


In my gedagtes gaan die volgende gesprek voort. “Jy gaan nou sing vir 200 odd kinders wat nie ‘n clue gaan hê waarvan jy praat nie. Vergeet van net sing, jy moet nog tussenin praat ook!”


Ek sien redelik op hiervoor en terwyl ek my klank wegpak bel Zelda my in trane. Sy het die motor gestamp. Ek besef onmiddelik dat hierdie ‘n stryd is teen die magte van Satan. Somewhere someone is not happy!


Ek kom by die Xhosa skool aan en dis net laerskoolkinders. Ek sing nie Siembamba liedjies nie, net heavy gospel!!!  (Darem nie te heavy nie, maar jy kry die prentjie hoe ek moes klink vir die kleintjies?)


Ek bedien en die heeltyd is die kleintjies tjoepstil. Ek ervaar die teenwoordigheid van Vader en ek sien die liefde in die onderwyseresse se houding. Terwyl ek sing en gesêls glimlag hulle.


Ek maak ‘n uitnodiging en die onderwyseresse tree die kinders aan in rye. Hulle moet tolk en ek bid. Vader raak daai kleintjies aan een na die ander sonder uitsondering!


Wow, wat ‘n belewenis! Ek loop op water


En stadig maar seker kom Vrydagaand nader. Dis waarvoor ek regtig daar moes wees.


Ons sou 7 uur begin die Vrydag aand. Met my aankoms so teen 5.30nm wag daar ‘n geselskap van 5 laaitjies, vol stof en stukkende klere my in. Hulle help my vandag en hulle verwag geen betaling nie. Hulle is Godskinders, word ek meegedeel. Cool!


Ons pak af en slaan op en ek tune alles wat moet ge-tune word en nog wat en toe 7nm aanbreek sit my hele gemeentetjie van 5 stofbedekte Godskindertjies met groot glimlaggies op hulle gesiggies in afwagting vir my en kyk…in die heel voorste ry. ‘n Man en sy vrou kom binne en ons is 7 sterk!  Die gemeente het so pas gegroei met 40%


Ek dink hulle was meer op hulle senuwees vir my onthalwe, maar ek skop af en begin sing. Sommer ‘n lekker not-so-heavy gospel liedjies vir die kleintjies.


Een vir een begin mense binnekom en dit hou nie op nie. Die plek raak gepak en later moet die mense staan. Die Here raak mense aan selfs daar waar hulle sit. Die een vrou kom vorentoe en getuig dat terwyl ek nog besig was om te sing ervaar sy ‘n sensasie in haar bene en verdwyn die pyn en word haar rug genees. Wat die Here alles daardie aand gedoen is was so opbouend vir my eie geloof. Ek kon ervaar hoe die Here vir my as intrument gebruik vir Sy heerlikheid.


Die volgende aand?


Wat dink jy!

Johann

Scroll to Top