Kankergewas verdwyn skoonveld

Bitter aalwynsap met ’n lekseltjie laventel gekook in ’n kastrol. ’n Huis vol laserstrale wat jou van enige terminale siekte kan genees.

Dit is maar van die verskeie boererate en vreemde, alternatiewe terapieë wat wildvreemde goedhartiges die afgelope week na my ouerhuis deurgebel het nadat dit in ’n nasionale tydskrif bekend gemaak is die kanker is terug.

Ek skryf in die eerste persoon vandag, omdat ek ’n Volksblad-joernalis is en omdat ek opdrag gekry het om almal van my interessante, dog dramatiese lewe te vertel en getuienis te lewer dat daar pas ’n wonderwerk met my gebeur het wat die hele ganse wêreld aan die gons het.

Ek’s ’n drama queen met ’n hippy se siel, wat ek van my ma geërf het.

Ek is op 18 Oktober 1980 op ’n reënerige dag in Bloemfontein gebore. Op 13-jarige ouderdom is ek met ’n gewas op my brein gediagnoseer.

Pyn is al wat ek nog ooit geken het, omdat die breingewas my monster-migraines gegee het.

Ek het geleer om met die pyn saam te leef.

Soms was ek sielsongelukkig, omdat die konstante hoofpyne my so verwyderd van almal laat voel.

Maar ek was nooit alleen in my pyn en verdriet nie. My wonderlike, liefdevolle ouers, Ryk en San-Marie Neethling, was altyd daar.

My beste maat en laatlamsussie, Jean-Marie, het nege jaar later haar opwagting in die Neethling-huis gemaak. Min wetend dat die klein feetjiekind met die ysblou oë my steunpilaar in my geveg teen die kanker later in my lewe sou wees.

 

Ek is op 13 met Choroid Plexus carcinoma, ’n baie vremde en aggressiewe breinkanker, gediagnoseer. Daar is aanvanklik voorspel dat ek twee maande oor het om te lewe.

Maar my kinderhart het geweier om handdoek in te gooi. Die enigste handoek wat ek ingegooi het, was toe ek my swemhanddoek in my sak sou wegpak ná ’n harde swemoefensessie in die Stadion-swembad.

Ek het elke dag ná bestraling alleen gaan swem oefen met ’n Checkers-sak op my kop. Dokters het gesê my kop mag nie nat word nie, maar ek het verbete geveg teen pessimisme en aanhou swem oefen, geweier om by die huis te bly en weg te kwyn en my kaalkoppie met ’n bandana te verbloem.

Drie breinoperasies en ’n rits bestralingsessies later was my kanker in remissie. Halleluja! Uiteindelik kon ek ook sorgeloos leef sonder om oor die dood te dink.

Die normaalste tyd in my lewe was sekerlik die tyd ná skool, toe ek blakend gesond was. Ek het ná matriek kinders, onder wie Tom Hanks se seun, op ’n luukse somerkamp in Amerika opgepas. Hierna is ek na die Universiteit van Potchefstroom om ’n graad in joernalistiek met grafiese kuns te voltooi.

Ek het my droomman, Bruce Blair, in my derde jaar op universiteit ontmoet. Ons is verlede September getroud. Maar die bruid het nie slapelose nagte gehad oor servetringe of tafellyste nie, maar eerder oor die kanker wat wéér kop uitgesteek het in my lae rug.

Ek is voor my troue twee keer aan my rug geopereer om die gewas te verwyder.

Die operasie was suksesvol.

Maar op 6 Junie vanjaar het ons die slegte nuus van my neurochirurg gekry dat ’n kwaadaardige en baie aggressiewe kankergewas in my lae rug teruggegroei het.

Ek het geweier om te glo dat ek wéér siek is. Dat ek wéér my ongelooflike lekker bestaan en beroep waaraan ek so hard gewerk het, moet opoffer vir nog ’n verbysterende bakleiery teen die groot K.

My dokter wou dié keer dadelik opereer, maar ek het ander planne gehad. Ek moes eers die daaropvolgende naweek strooimeisie speel in George vir my boesemvriendin Roma Chaplin.

’n Dag ná die skoknuus sê my persoonlike afrigter, Andrey Vermaak, vir my dat ek “nie ’n operasie nodig het nie” en dat dokters niks gaan kry in my rug nie.

Volgens hom was die kanker reeds weg. Andrey het ook dieselfde aand ’n droom gehad van vloede in Natal. Toe ek die naweek in my hospitaalbedjie lê en die TV aanskakel, sien ek dit: Vloede in Natal.

Toe ek op 18 Junie geopereer is in my lae rug om die gewas uit te haal, was die gewas skoonveld!

Bewyse dat wonderwerke nog gebeur.

My broer, Ryk, se reaksie op die goeie nuus was: “Dink julle nie dis hoogtyd dat julle ophou vrae vra en net aanvaar Elsje se lewe is ’n wonderwerk van God nie.”

Kom ons aanvaar dat wonderwerke skeppings en bewyse van God se almagtigheid is. Ons is ’n klein deel van Sy groot plan. Staan op en kyk vorentoe, en asseblief, hou net op vrae vra.

Elsje Blair : www.news24.com/DieˍVolksblad

Scroll to Top