Kata

“Sê Jesus moet sommer hier by my kom lê.”

Dít was die woorde van klein Kata Byleveld (5) aan ds. Schalk Kotzé toe hy Saterdagmiddag, die dag voor haar dood, vir haar ’n gebed in die huis van haar ouers, mnr. Mannetjies en mev. Lizelle Byleveld, gedoen het.

“Sy het op die bank gelê, onder sterk morfienverdowing, en ek het gesê ek sal vir Jesus vra om haar hand vas te hou,” het Kotzé gister ná haar begrafnis om 10:00 uit die NG Moedergemeente gesê.

“Sy het die laaste paar dae baie van Jesus en die hemel gepraat en gesê sy wil huis toe gaan.”

Kata, wat op 2 Desember verjaar het, is in Mei 2007 met neuroblastoma (kanker wat die senustelsel, beenmurg en limfkliere aantas) gediagnoseer. Sy is in die Rooi Kruis-kinderhospitaal behandel voordat sy in November ’n beenmurgoorplanting ondergaan het.

“Sy het so goed gelyk ná die operasie. Dis ’n skok dat sy weg is,” het haar pa vroeër vandeesweek gesê.

Sy het tien dae voor haar dood weer begin kla van beenpyn en spesialiste het besef hulle het nie raad nie. Sy was drie dae onder morfienverdowing voordat sy Sondag om 11:00 dood is.

“Sy het ’n besondere begrip van God en Jesus gehad vir so ’n klein kindjie,” het Kotzé vir die meer as 300 begrafnisgangers gesê.

“Ek onthou die dag toe ek by hulle uit die Kinderbybel gelees het en sy op my skoot gesit het. Sy het vir my baie meer verduidelik van die storietjie as wat ek self verstaan het. Sy het die Here beter geken as baie mense.”

Kotzé het uit Psalm 22 voorgelees waarin koning Dawid, wie se kind ook gesterf het, gevra het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” net soos Christus op Goeie Vrydag vir God dieselfde vraag gevra het.

“Ons vra ook die vraag: Waarom so ’n jong kind? Maar God gebruik slegte dinge om goeie goed te laat gebeur. Hoeveel van ons se lewens het Kata nie aangeraak nie? Kata, dankie daarvoor.

“Môre sal ons in ons koerant lees Kata is weggeneem, maar ek is seker in die hemelkoerant sal staan ‘Kata het tuisgekom’.”

Terwyl Kata se twee gunsteling-liedjies van Steve Hofmeyr gespeel het, is foto’s van die dogtertjie op twee skerms voor in die kerk geprojekteer.

Op een van die foto’s is Kata geklee in ’n ligblou engeltjierok met vlerkies en ’n blou bandjie met rosies om haar kaal koppie.

By die graf het haar twee oupas, mnre. Piet Badenhorst en Attie Wes­sels, en haar twee ooms, mnre. Bennie Byleveld en Niekie Kennedy, die pienk-en-wit kissie na die graf gedra. Sy word ook oorleef deur ’n sussie, Janka (1).

TISHA STEYN – Die Burger (www.dieburger.com)

Scroll to Top