Vrou praat oor groot vrede na man, seun se branddood

mocke-gesin

“Ons lewe was besonders en out of the box,” sê Melanie Mocke, vrou van Johan en ma van Zander (15) wat verlede week gesterf het toe hulle op die Mount Everest-wildplaas brande bestry het. “Ek hanteer hul dood met ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.”

Sy beskryf Johan as ’n baanbreker, iemand wat nie bestaande paaie sou gevolg het nie, maar nuwe paaie sou maak. Omdat hulle in die bediening was, is hul kinders tuis onderrig.

Melanie sê Christus is hul gesin se lewe.

“Alles gebeur sodat ’n groter openbaring kan volg.”

Die gesin sou vroeër vanjaar na Australië geëmigreer het, maar toe sake nie uitwerk soos hulle gehoop het nie, het hulle op Mount Everest gaan woon. Hulle is groot vriende met die eienaar, Petrus Weyers.

“Johan het op die plaas gehelp. Hy was besig om ’n ou restaurant vir ons in ’n huis om te skep. Hy het so hard daaraan gewerk. Ons sou binne ’n maand kon intrek,” sê Melanie. Sy en haar ander seuns woon nou by vriende in die dorp.

Melanie sê Johan, ’n afgetrede pastoor, het mense dikwels met die Skrif uitgedaag.

“Sy bediening was radikaal. Hy het altyd aan die einde van ’n preek gesê: Now I have made a couple sad, a couple mad and a couple glad.”

Waldo (21) sê sy broer was ’n ou siel.

“Ja,” beaam Melanie. “Zander was beleef en karaktervol. Hy het nooit die slegte in enig­iemand gesien nie. Hy was baie wys en volwasse. Hy was lief vir diere en het elke middag op die plaas die buffels help voer.”

Melanie sê Johan, met wie sy 28 jaar getroud was, het ’n ongelooflik goeie verhouding met hul seuns gehad.

“Dit was Johan en Zander se natuur om te help. Hulle was Donderdag van die eerste mense oor die berg. Daarna kon ons hulle nie per telefoon in die hande kry nie. ’n Plaaswerker, Kehla Mokoena, het saam met Johan en Zander in die brand gesterf.”

Bron : Netwerk24.com

Scroll to Top