Uit die Oue, In die Nuwe – Deel 50

Ek is besig om die afgelope tyd na te dink oor wat my en jou as volgelinge van Jesus, op ’n praktiese vlak anders maak as die mense om ons wat nie vir Jesus ken nie.

Deur God se genade en deur die openbaringe van wat in die Woord staan, het ons oë daarvoor oopgegaan en het ons selfs iets begin verstaan wat hier binne-in ons gebeur het deur die werking van God se Gees toe ons gekies het om Jesus Christus te aanvaar as Verlosser en Here.

Maar ek het begin wonder hoe dit my en jou praktiese lewe, ons manier van doen en dink, dag vir dag, anders maak as dié van ander mense om ons wat nie vir Jesus ken nie. En ek het tot die volgende gevolgtrekking gekom:

Omdat die Heilige Gees in my en jou lewe kom woon het as Nuwe Testamentiese gelowige volgelinge van Jesus Christus, het ons as’t ware ’n bril gekry waarmee ons deur God se genade ook nou die onsigbare kant van dinge kan sien.

In ’n sin kan jy “geloof” so omskryf. Geloof is om op dinge te hoop en dinge te vertrou wat ander mense nie kan sien met hulle gewone oë nie.

Heb. 11:1 beskryf geloof in hierdie terme as daar die volgende staan: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Kom ons praat ’n bietjie baie prakties hieroor. Ons leef in ’n tydperk in die geskiedenis van die wêreld wat daardie dinge waarop mense in die Eerste Wêreld al die jare vertrou het, soos ’n goeie, stabiele werk, ’n mooi gerieflike huis om in te woon, brandstof vir jou kar, geld in die bank, die gerief om enigiets te doen wat jy wil of na enige plek te ry waar jy wil, nie meer sommer vanselfsprekend is nie. Nou hoor ons nog boonop profeties dat die wêreldekonomie en wêreldmarkte binnekort totaal kan ineenstort, met al die katastrofiese gevolge wat dit kan meebring vir ’n tyd daarna.

Wat help ’n volgeling van Jesus Christus om in ’n tyd soos dié nie net te oorleef nie, maar om werklik ’n vol, vreugdevolle en betekenisvolle lewe te leef?

Ek wil dit so omskryf: Ons sal moet leer om as volgelinge van Jesus ’n lewe van Bybelse bonatuurlike geloof te leef. Anders gesê: Ons sal moet leer om in Jesus Christus as die Al- en Enigste Oplossing beskikbaar, te vertrou en as’t ware in te prop in geloof dag vir dag soos wat ons gekonfronteer word met die uitdagings van elke dag.

Ons sal moet leer om in geloof dag vir dag te kies om te glo dat ons Sy liefde en Sy besig-wees en versorging in ons lewe ten volle kan vertrou.

Ons sal moet weet en verstaan dat toe Hy belowe het om ons te lei met Sy stem, dit in die besonder vir hierdie uitdagende tye sal geld. Daarom kan ons glo en weet dat ons elke dag op allerlei maniere Sy stem gaan hoor en beleef hoe Hy ons lei tree vir tree, van uitdaging tot uitdaging. Ons sal moet kies om heeltyd sensitief en oop te bly vir Sy stem en leiding, maar ook gewillig om te doen wat Hy sê en wys.

Dit moet die hart en dryfveer word van ons lewe. Ons moet daaglikse prakties volgelinge wees van Sy stem.

Dan praat ek van ’n lewe waarin ons nie in die eerste plek reageer op wat ons met ons gewone sintuie waarneem nie. Nee, dit gaan hier oor dinge wat ons as’t ware met ons nuwe, geestelike sintuie begin ervaar, sien en hoor. Dit gaan daaroor dat ons met ons geloofsoë begin kyk en sien en dan uitstap en doen in gehoorsaamheid.

Ek glo dit gaan die sleutels wees tot ’n sinvolle, gebalanseerde, betekenisvolle lewe as volgeling van Jesus in hierdie tyd.

Scroll to Top