Ons het begin gesels oor wat dit prakties behels om as volgeling van Jesus elke dag te lewe.
Ons moes teenoor mekaar erken dat dit is asof daar “twee mense” hierbinne in ons liggaam woon. Ons kan dit ook “twee nature” noem. Ons ou natuur of “vlees”, trek as’t ware elke dag tou met ons nuwe natuur.
Daar waar ons kies om die Heilige Gees se stem te gehoorsaam en doen wat Hy sê, gebeur merkwaardige dinge. Vir die eerste keer beleef ons oorwinning oor ou destruktiewe gewoontes en patrone wat ons lewe in die verlede bykans verwoes het. Daarom kan ons saam met ’n Paulus daar in Rom. 7:25 bely: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Met dit in gedagte, kom ons gesels oor die vraag: Maar hoe kan ek oorwinning kry oor sondige gewoontes en impulse waarmee ek al vir soveel jare worstel?
Natuurlik is impuls-beheer nooit maklik nie. Veral nie wanneer jy al jare daarmee worstel nie. Ons almal stry teen bepaalde impulse en gewoontes in ons lewens. Waarmee ek worstel, verskil maar net van waarmee jy worstel. Jy worstel miskien met jou geneigdheid om as emosionele eter meer te eet as wat jou liggaam nodig het. Ek stry miskien met hierdie spesifieke vrees of angs in my lewe. Of miskien worstel ek daarmee om my rekenaar af te sit wanneer daardie impuls kom om pornografiese materiaal op die Net te gaan soek.
Jakobus sê daar in hoofstuk 1:14 en 15: “Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”
Ons ou natuur voel en beleef hierdie impulse en begeertes na die sondige dag vir dag. Daarom is deel van navolging van Jesus daagliks om eerder te doen wat God se Gees ons sê en lei om te doen.
Impuls-beheer was ’n worsteling van die begin af, sedert die val van die mens. Eva het die verbode vrug aan die boom gesien en dit was vir haar “aantrek-lik” (Gen. 3:6). In plaas van “nee” daarvoor te sê en te kies om te glo wat God gesê het, kies sy om ja daarvoor te sê. In plaas van op te staan en sy man te staan as die koning, priester en profeet, kyk Adam toe as sy vrou sondig en doen hy maar mee.
Soms is hierdie impulse so sterk dat dit voel asof al ons weerstand, commitment en weet wat reg en goed is, daar voor verkrummel. Dit is asof ons sommer net ingee vir …
En nou kan jy maar hier invul dit waarmee jy worstel in jou lewe.
Miskien is dit die koop van totaal onnodige dinge … Net vir die lekker skop en opwinding wat dit in jou veroorsaak. Of miskien is dit daardie onnodige happie of ekstra bord kos. Of miskien is dit daardie opwindende “fling” of onbehoorlike verhouding wat jy met iemand het.
Blaai ons in die Bybel rond, sien ons baie gelowiges wat geworstel het met impuls-beheer. Dink maar aan ’n Simson. Hy was nou die perfekte voorbeeld van die spreuk daar in Spr. 25:28 waar daar staan: “’n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie.”
Simson sien hierdie mooi Filistynse vrou en ten spyte van sy ouers se argumente daarteen, trou hy met haar (Rigters 14:1-2). Daardie huwelik het nie eers ’n week gehou nie.
Dan was daar Delila vir wie hy net nie kon “nee” sê nie (Rigt. 14:8-9).
Hier het ons een van die sterkste van fisies-sterk mense, maar in die stryd teen sy eie vlees was hy magteloos en hulpeloos. Wat maar net weer bevestig dat dit ’n geestelike oorlog dié is wat op ’n geestelike vlak gevoer moet word.
2 Kor. 5:17 sê: Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
As gelowige volgelinge van Jesus is ons nuwe, veranderde mense. Ons staan nie meer magteloos en hulpeloos teenoor daardie drange en impulse van ons ou vlees-natuur nie (Rom. 6:17-18). Nee, ons is in ’n proses van heiligmaking. Of kom ons noem dit lewens- en gedragverandering. Natuurlik gebeur hierdie lewens- en gedragsverandering nie oornag nie. Dit neem tyd en vra dissipline.
Deel van geestelike volwassenheid is om daagliks gedissiplineerd nee te sê vir daardie impulse en drange van jou vlees (Rom. 7:18-25). Maar dit ook om te getuig van die oorwinnings oral langs jou lewenspad deur die genade en werking van die Heilige Gees in jou lewe.
Prys die Here vir Sy Gees in ons wat selfbeheersing bewerk in diegene se lewens wat Hom toelaat om hulle lewens te beheer en hulle gedrag te bepaal. (Gal. 5:22-25). Ja, Hy bewerk self-dissipline in ons waarvan 2 Tim. 1:7 praat.
1 Pet. 1:13 tot 15 sê daarom: “Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.
As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees.”
Ons selfbeheersing is dus nie bloot ’n oefening in om vir die regte dinge te kies nie. Nee, dit is eerder ’n oorgee en rus in die genade in Jesus Christus en om toe te laat dat Sy Gees ons lei en ons gedrag bepaal (Gal. 2:19-20; 5:16-25).
Of soos 2 Kor. 10:3 tot 5 dit beskryf: Dit is om die Heilige Gees toe te laat om by die hekke van jou gedagtes, gevoelens en keuses te staan om jou te help om te bepaal waarvandaan elkeen kom en wat die bron daarvan is: vlees of Gees. En wat nie van Hom af is nie, summier die deur te wys en daarvoor nee te sê.
Dit maak van ons wenners … in geloof-terme (1 Joh. 5:4). Dit maak dat ons nie meer aan die drange en impulse oorgegee is nie. Nee, ons kan beheer daaroor neem deur die krag van God wat in ons aan die werk is (Ef. 3:20).
