Daar is ’n plek en tyd in die lewe van ’n gelowige volgeling van Jesus waar jy moet kies om op te staan, ’n streep in die sand te trek en in die geloof te sê: Tot hiertoe en nie verder nie!
In Efesiërs 6 leer Paulus ons hiervan. In hierdie hoofstuk neem hy ons, onder die inspirasie van die Gees, weer terug na ons posisie van outoriteit in Christus Jesus.
Dit is daar waar ons weer besef dat Christus Jesus alreeds die volkome oorwinning behaal het vir en namens ons.
Dit is dan, vanuit hierdie geloofsposisie, waar jy kies om dit net weer te glo ook oor en van hierdie uitdagende situasie waarin jy jou tans bevind, wat jy in geloof jou posisie in Christus Jesus inneem.
Hoor hoe sê Paulus dit daar van Ef. 6:10 tot 18: “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.
Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.
Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.
Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.
Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.
Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.
Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.
Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.”
Vers 18 is die sleutel van hierdie gedeelte. Ek en jy het nodig om in geloof baie gereeld elke dag, by Jesus se voete gaan sit en Hom in die oë te kyk om weer ons vrede terug te kry wanneer ons beleef dat ons onder aanval is van die vyand.
Dit help ons om weer rustig te raak en te weet dat ons veilig is, selfs al bulder die kanonne van die vyand om ons of al klap die skote van sy skerpskutters hierrondom ons.
Daar aan Sy voete het ek nodig om myself te herinner aan die woorde van Klaagliedere 3:21-26: “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.
Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.
Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here …”
Die Here se genade en goed-wees is elke dag nuut, beskikbaar en genoeg in my en jou lewe. En ons het nodig om onsself te minste elke dag hieraan te herinner. Ons het selfs nodig om dit kliphard vir onsself in geloof te sê.
Om na Jesus te kyk en weer op Hom te fokus, in plaas van na my omstandighede te kyk, kan immers alles verander. Vir Hom in niks onmoontlik nie.
Ons is met iets baie groter besig as net dit wat ons kan sien!
Soms moet ons mekaar herinner dat elkeen van ons betrokke is by iets baie groter as net dit wat ons kan sien en ervaar met ons gewone sintuie! Die lewe gaan oor baie meer as net dit!
As ons werklik die Bybel glo en die God van die Bybel, wat ons in Christus Jesus leer ken het, vir ons ‘n werklikheid is, moet ons elke dag onsself dwing om erns te maak met die twee sinne hierbo!
Kan ek jou vra, en moet asb nie sommer net vinnig antwoord nie: Glo jy werklik wat in die Bybel staan? Glo jy dat ‘n lewende God Homself daardeur aan ons as mense bekendstel en met ons praat?
Indien jy dit glo, sê hierdie God vir ons dat Sy Koninkryk besig is om rondom ons te kom op hierdie planeet.
Is jy daarby aktief betrokke? Is dit wat jy vandag doen en sê getuienis dat jy dit werklik glo en jou daarvoor beywer?