Uit die Oue, In die Nuwe – Deel 42

Die vorige keer het ons gesels oor die tragedie dat alhoewel die sensusvorms in Suid-Afrika ’n storie vertel dat bykans 80 persent van al die inwoners in hierdie land hulleself as lede van Christelike kerke beskryf, dit nie beteken dat hulle werklik gelowige verloste volgelinge van Jesus Christus is nie. Alhoewel hulle op papier erens deel is van die een of ander Christelike kerk, is hulle nie almal deel van die ware Nuwe Testamentiese Kerk of Ekklesia (dit is die Griekse woord in die Bybel wat ons met “kerk” vertaal het) nie.

Ek onthou hoe ek en my kollega vir bykans 3 jaar van huis tot huis en woonstel tot woonstel in die NG-gemeente, Potchefstroom-Mooirivier, persoonlike besoeke gedoen het by bykans 3000 lede van die gemeente, om tot die skokkende ontdekking te kom dat minder as 20 persent van die gemeente werklik kon getuig van ’n persoonlike geloofsverhouding met Jesus Christus as Verlosser en Here.

Die wêreldwye gebedsbeweging, Operation World, het vanuit navorsing tot die oortuiging gekom dat tussen 10 en 20 persent van lede van erkende Christelike kerke oor die hele wêreld werklik beskryf kan word as verloste gelowige volgelinge van Jesus Christus wat dus werklik deel van die ware Nuwe Testamentiese Kerk van Jesus Christus is.

Die skokkende realiteit is dus dat tussen 80 tot soveel as 90 persent van mense wat onder die indruk is dat hulle “gered is” en deel is van Jesus Christus se ware Kerk, totaal verlore en op pad hel toe is.

Ja, ek het “op pad hel toe…” gesê, want ek is oortuig dat “die hel” ’n verskriklike werklikheid is. En hier is my redes.

Kom ek sê dadelik dat die Bybel nie ’n geweldig uitvoerige prentjie van die hel vir ons skets nie, maar tog is daar oorgenoeg geopenbaar oor dit wat enige onduidelikheid of onsekerheid oor die bestaan daarvan onmiddellik uit die wegruim.

Jesus self het in Sy prediking in die sowat drie jaar lange openbare bediening drie-en-dertig keer na die “hel” as ’n werklikheid verwys. Een van hierdie gedeeltes is daar in Lukas 16:19-31.

Bestudeer ’n mens hierdie gedeelte is dit baie duidelik dat ons nie hier te make het met ’n gelykenis of net ’n storie om iets vir die skare te leer nie. Jesus praat hier van regte persone (kyk bv. vers 19,20 en 22); Hy verwys hier na ’n plek, Hades, in die Grieks; en beskryf dit in baie reële terme as ’n plek van ewige, onophoudelike pyniging, lyding en vuur.

Dit is belangrik om die Ou-Testamentiese prentjie van die doderyk in gedagte te hou. Die Ou Testament verdeel die doderyk in hierdie twee gedeeltes: Sheol en Abaddon (kyk bv. in Spr. 27:20). Hier in Lukas 16 sien ons die twee groepe mense: Die een groep daar rondom Abraham in ’n plek van rus, terwyl die ander groep in ’n deel van die doderyk reeds in hierdie staat van pyniging en vuur wag op God se finale oordeel.

Uit gedeeltes soos 1 Petrus 3:18 e.v. lei ons af dat Christus Jesus, na die kruisiging en opstanding, hierdie doderyk binnegegaan het om “daar Sy oorwinning aan te kondig”, maar ook om die gelowiges in oorwinning uit te lei na wat Hy as die “Paradys” beskryf het in die teenwoordigheid van God. (Die ongelowiges en ongehoorsames bly dus agter in daardie staat van pyniging en vuur en wag op God se finale oordeel).

Die gelowige volgelinge wat reeds gesterf het, beleef reeds “Paradys” daar in die teenwoordigheid van God die Vader en Jesus Christus, om dan by die finale oordeelsdag deel te kry aan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Terwyl die ongelowiges vir ewig die volle gloed van God se toorn en oordeel gaan beleef in die hel.

As ’n mens verder kyk wat die Woord aan ons openbaar in Lukas 16 oor die hel voor die finale oordeel, dan sien ons dit is ’n plek/staat waar mense verligting soek; waar hulle, soos vers 28 aantoon, uiterse kwelling beleef oor diegene wat nog lewe, maar nie glo nie; en waar hulle in die lig van wat hulle beleef, begeer dat diegene op aarde wat nog leef die tyd sal gebruik om hulle te bekeer.

En let asseblief op: Daar is beslis ’n toekomstige, baie erger hel wat nog op hulle wag na die finale Oordeelsdag as dit waarna Jesus hier in Lukas 16 verwys het. Die Bybel openbaar heelwat daaroor. Dit is die finale eindbestemming van die duiwel en sy engele, maar ook van diegene wat bly volhard het in hulle ongeloof en ongehoorsaamheid. Verder gaan ’n plek/staat wees waar daar geen lig gaan wees nie en waar totale, uiterste duisternis gaan heers (Markus 8). Gedeeltes soos Openbaring 9, 11, 17 en 20 praat baie daaroor. Daar gaan geen rus (Openbaring 14:11) en ook geen hoop meer wees nie. Dit word selfs as ’n “bodemlose put” beskryf, waar daar dus niks konkreet is om aan te vat om jouself te oriënteer en in ’n mate nog jou “sanity” te behou nie.

Kom ek maak nog ’n stelling oor die hel, naamlik dat die hel nie aanvanklik vir die mens voorberei is nie. Mat. 25:41 lui soos volg in die verband: “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is …”

Ek dink nie ons voer hierdie vers te vêr as ons daaruit sou aflei dat die hel nie aanvanklik vir die mens voorberei is nie. Dit was aanvanklik bedoel vir die duiwel en sy engele. God se hart, sê 1 Tim. 2:3 en 4, vir ons is dat alle mense gered sal word. Luister hoe staan dit hier: “So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

As gevolg van die mens se volgehoue ongehoorsaamheid en ongeloof om die wonderlike boodskap van die Nuwe Testamentiese Evangelie oor Jesus Christus te glo, moet daar nou ook plek vir hulle gemaak word in hierdie hel.

Ek weet nie van jou nie, maar dit motiveer my om erns te maak met my getuienis, tydig en ontydig. Want watter wonderlike boodskap en alternatief het ons nie om vir mense van te vertel nie!

Ons kan hulle vertel van ’n lewe in en saam met Jesus Christus wat tereg deur Jesus self as “lewe en dit in oorvloed” beskryf is. Waarvan die werklikheid van ’n hemel aan die einde ook deel is. Ja, ’n hemel wat vir diegene wat in Jesus glo, bedoel is.

Daarom kon Jesus immers daar in Johannes 14 vir Sy volgelinge die versekering gee: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” (vers 1 tot 4)

Scroll to Top