Eers daar waar ek en jy, as volgelinge van Jesus Christus, kies om onvoorwaardelik te doen wat Hy vir ons sê om te doen en waar ons kies om Hom onvoorwaardelik te vertrou om volledige vir ons en ons geliefdes te sorg as ons Hom navolg, beleef ons iets van die omvang en uitdagings van hierdie lewe van geloof waarvan ’n hoofstuk soos Heb. 11 praat.
Daar waar God jou enigste Bron en Opdraggewer is en jy kies om net Hom te volg en net Hom te vertrou en nie meer op jou eie insigte staat te maak nie, daar breek iets van hierdie bonatuurlike ervaring van in die geloof te lewe, stelselmatig deur.
Die omstandighede en uitdagings waaronder ons elkeen dit gaan leer, gaan verskil. Maar tog gaan die hart daarvan dieselfde bly.
Ons almal gaan ontdek hoe God vir ons dinge wys en dinge sê wat ander mense (wat Hom nie ken nie) nie gaan sien en nie hoor nie. Ons gaan bewus word van dimensies en kante van sake wat onsigbaar is en ook nie bewys kan word met behulp van die normale en fisiese dinge rondom ons nie.
Onthou julle die fliek, THE MATRIX?
Dit was die film oor ’n klein groepie soldate wat in en tussen twee verskillende wêrelde gelewe en oorlog gemaak het. Die oorlog wat hulle elke dag in die sigbare wêreld beleef het, was alles gebaseer op een reuseagtige leuen. In daardie sigbare wêreld is alles beheer deur robotte en masjiene. En dit is in hierdie sigbare wêreld waar hierdie klein groepie soldate opgelei en toegerus word om hierdie wêreld terug te verower uit die hande van hierdie robotte en masjiene om weer so genesing en herstel te bring op aarde.
Alles wat mense dan normaalweg rondom hulle in hierdie wêreld as realiteite sien en ervaar het met hulle gewone sintuie, word dan die Matrix genoem. Maar eintlik is alles wat jy sien en beleef met jou gewone sintuie in hierdie gewone sigbare wêreld gebaseer op leuens. Dit is alles die gevolg van die kontrole en manipulasie. Jy sien en ervaar dus bloot wat die robotte en masjiene wil hê jy moet sien en ervaar!
En dit is eers as jy “bonatuurlik” ervaar hoe jou oë en ander sintuie aangeraak word en jou oë en ander sintuie “oopgaan” vir die ander, onsigbare dimensie wat jy eintlik besef wat regtig agter die skerms aangaan, daar waar ’n mens nie gewoonlik kan sien en hoor nie.
Vriende, dit is ook ‘’n prentjie van wat met ons gebeur het toe ons Jesus aanvaar het in geloof! Ons geloofsintuie het “oopgegaan” vir daardie onsigbare dimensie waar ons ’n lewende, persoonlike God ontdek het in Jesus Christus, wat mense so liefgehad het van die begin af, dat Hy bereid was om Sy Seun mens te laat word en Sy lewe te laat gee, sodat ek en jy “lewe kan hê en dit in oorvloed”.
Aan hulle het hierdie God nie net lewe bedien nie, maar het Hy ook Sy Gees gegee om in hulle te kom woon. Om lewe aan hulle te bedien, Jesus se lewe aan hulle te bedien en die oorvloed wat dit nog alles behels.
Om dit te laat gebeur, het Hy belowe, gaan Hy hulle lei deur Sy stem. Hulle sal moet leer om Hom genoeg te vertrou om Sy stem onvoorwaardelik na te volg en te gehoorsaam.
Daar in Jes. 51:6 tot 8 sê die Here: “Kyk op na die hemel, kyk na die aarde hier onder: die hemel sal soos rook verdwyn, die aarde sal word soos ou klere, en almal wat daarop woon, sal doodgaan soos muggies, maar die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees, die redding wat Ek bring, sal altyd bly.
Luister na My, julle wat doen wat reg is, volk in wie se hart my wet is, moenie bang wees vir die spot van mense nie, moenie skrik as hulle julle beledig nie.
Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word, soos wol wat deur vismotte verniel word. Maar die redding wat Ek bring, sal vir altyd wees, die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag.”
En daar in Mat. 24:35 belowe Hy: “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”
Ons moet onthou dat ons in ’n wêreld woon waar dit wat ons sien en ervaar met ons gewone sintuie nie die volle prentjie en die volle waarheid is nie. Baie van wat ons sien en ervaar met ons gewone sintuie is ook deel van die leuens en die manipulasie van die Een en sy magte, wat bekend staan as Leuenaar en Moordenaar.
Ons moet verwag dat ons dus gaan sien hoe groot korporasies en besighede gaan kom en gaan rondom ons. Ons gaan sien en beleef hoe die hele wêreldekonomie meer en meer onstabiel word, hoe verhoudings kom en gaan en selfs hoe mense rondom ons gebore word, maar ook sterf.
Dit kan ons natuurlik alles baie onseker laat voel. Maar as volgelinge van Jesus moet ons hoor hoe God vir ons midde dit alles sê: Moenie bang wees nie. Ek is by jou. En Ek is en bly in beheer.
Ons moet weet dat ons iets sien en beleef van hierdie geestelike oorlog en stryd waarvan ons onder andere in Openbaring van lees.
Natuurlik wil God ons nie bang maak of laat vrees as Hy hierdie “onsigbare werklikheid” vir ons wys nie. Hy wil ons eerder bemoedig en aanmoedig om te doen wat ons moet doen daar op die platform wat Hy ons gegee het. Juis omdat ons gekies het om Hom en Sy Woord en Sy besigwees met ons te vertrou. Want ons weet nou dat dit alles nie maar toevallig gebeur en dat ons net magteloos daarteenoor staan nie.
As Sy volgelinge, wil Hy ons leer hoe om oorwinnend, vreugdevol, met groot vrede in ons hart elke dag wat ook al oor ons pad kom, te hanteer soos Hy ons lei deur Sy stem.