Wanneer ek vir God tyd gemaak het in my lewe om vir my te wys wat agter die skerms aan die gebeur is en wat in Sy hart is vir my, help dit my om in geloof in die hier en nou te lewe.

Soos Heb. 11:3 dit so treffend sê: “Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.”

Dit is dan wat “geloof” ’n bril word waarmee ek kyk na die dinge wat rondom my in die sigbare wêreld gebeur en is.

Dit is dan wat ek begin soek na bevestiging vir die woord en openbaring wat God my gegee het, ook in die fisiese, normale wêreld en gebeure hier rondom my.

Kom ons wees prakties: As ek begin bid het oor ’n situasie of oor spesifieke behoeftes in my of ander se lewens en werklik met God daaroor gepraat het sodat Hy ook vir my iets van Sy hart daaroor kon openbaar, begin ek in die normale gang van sake “soek” na bevestiging vir wat God vir my daaroor gesê het.

In die taal van die Nuwe Testament en nuwe verbond waaroor ons al vir solank praat, kan ons dit so vir mekaar sê: Daar waar God se Gees wat hier binne-in my woon, met my begin praat en dinge aan my openbaar, verander dit hoe ek optree, verander dit hoe ek dink en praat oor dinge. Want tyd in God se geselskap verander my. Dit leer my om in geloof te begin lewe, te praat en te dink. Ek weet immers nou wat in God se hart hieroor is.

Dit is waarom die Bybel ons mense noem wat “deur die Gees van God gelei word” (soos daar in Rom. 8 staan).

Dit is wat dit beteken om te bid, soos Jesus ons geleer het om te bid in die “Ons Vader-gebed”: “So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

Daar aan die voete van Jesus ontdek ons dat daar aan God se kant, “in die hemel”, niks buite orde of uit plek is wat gebeur nie. God se bedoeling met alles gebeur presies so. Daar is immers nie sonde of ’n bose wat dinge kan omkrap nie.

Hoe langer ons daar stil word en mooi kyk na wat in God se hart is vir dinge, kry ek ’n kykie in wat God se wil vir my lewe en die dinge wat tans hier rondom my op aarde gebeur is. Dit is immers hier waar dinge nie alles op plek is nie en waar daar magte aan die werk is wat net chaos wil veroorsaak.

Daar aan Sy voete, in geloof, kry ons geleentheid om te bid: Ag, Here, gee vir my ’n geloofsbril om te sien en te verstaan wat hier rondom my moet gebeur sodat U Koninkryk en U wil ook hier kan geskied. Daar kan ons bid: Here Jesus, stap U vooruit en wys vir my wat in U hart is vir hierdie situasie. Hoe wil U hierdie situasie verander, my restoureer en die mense rondom my restoureer? Wys vir my wat moet hier gebeur sodat ’n sprankie van die hemel hier rondom my sigbaar kan word.

Dit is waarom ons al soveel keer vir mekaar gesê het dat hierdie soort gebed werklik dinge kan verander. Ja, hierdie soort gebed kan die wêreld om ons ’n ander, beter plek maak.

Dit kan ons verander in mense wat ander mense en die wêreld om hulle kan verander.
Daar waar ek en jy as volgelinge van Jesus, in navolging van Sy stem en Sy openbaring aan ons, gehoorsaam begin doen en sê wat ons moes doen en sê, word ons Sy dissipels en word ons kanale waardeur Sy Gees merkwaardige dinge kan laat gebeur.

Dit laat ons iets verstaan van wat daardie merkwaardige verse in Ef. 2:4 e.v. bedoel as daar staan: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”

Daar aan Sy voete “in die hemel” kan ons ontdek dat God reeds lankal in alles voorsien het wat ons nodig het. Daar kan ons ontdek hoe lief Hy vir ons en vir ons geliefdes is, ja, selfs vir daardie ongeredde vriend, familielid of persoon vir wie se redding ek besig is om te bid.

Daar aan Sy voete leer ek wat dit beteken om in geloof dinge vas te gryp asof dit reeds gebeur het, alhoewel ek dit nog nie in die gewone wêreld beleef waar ek net my gewone sintuie het om te toets of “dinge werklik gebeur het” nie.

Dit is immers wat dit beteken om “in geloof” te lewe.

Scroll to Top