Uit die Oue, In die Nuwe – Deel 45

Ek lees elke jaar die Bybel weer ’n slag dwarsdeur. Volgens hierdie plan op YOUVERSION wat ek gebruik, het ek die afgelope tyd weer die hele boek, Kolossense, deurgelees.

Wow! Die inhoud van hierdie Bybelboek het my hart net weer vasgegryp en ek wil graag daarvan met jou deel. Dit wat hier staan is presies waaroor ons die afgelope tyd gesels, naamlik wat dit beteken om ’n Nuwe Testamentiese-geloofsgemeenskap te wees as Kerk van Jesus.

Ek gaan dit wat in die Kolossense-brief staan ’n bietjie orden sodat dit ’n prentjie vorm. En ek haal uit die Nuwe Lewende Vertaling aan, net om dit ’n bietjie meer verstaanbaar vir die meeste van ons te laat wees.

“Ek is ’n dienskneg van dié kerk. God het my die verantwoordelikheid gegee om aan julle sy volle boodskap bekend te maak. Hierdie boodskap was vir eeue en geslagte lank ’n geheim, maar nou het God dit aan sy eie mense bekendgemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe wonderlik die heerlikheid van hierdie geheim vir alle volke is. Die geheim is: Christus leef in julle.” (Kol. 1:25-27)

Hoor jy? As jy Jesus Christus in geloof as jou persoonlike Verlosser en Here aangeneem het , omdat jy glo dat Hy ook aan die kruis jou sondes op Hom geneem het en daarvoor die volle straf gedra het, het God se Gees jou nuut gemaak en in jou kom woon. En omdat Hy as die Gees van Christus in jou lyf kom woon het, woon Christus Jesus self in jou.

“Dit is my doel dat hulle moed sal skep en deur liefde aan mekaar verbind sal wees. Ek wil hê dat hulle insig skatryk en oorvloedig sal wees, ja, dat hulle God se geheim heeltemal moet ken, naamlik: Christus.

In die eenheidsband met Christus is al die geheime skatte van wysheid en kennis te vind.” (Kol. 2:2-3)

Hoor jy, alles wat vir ons kosbaar is en Kerk laat wees, draai alles rondom Jesus. Hy is die hart van alles wat vir ons werklik saak maak.

“Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle lewe soos mense wat aan Hom verbonde is. Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid.” (Kol. 2:6,7)

Daarom is deel van ons verantwoordelikheid teenoor mekaar as lede van hierdie wêreldwye Kerk-familie, om mekaar aan te moedig om net aan hierdie Jesus Christus en wat Hy gedoen en gesê het, vas te hou met alles wat ons het.

“Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig. En omdat julle één is met Christus deel julle in sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag.

Omdat julle één is met Christus is julle ook besny, nie met ’n besnydenis deur mense nie, maar met die besnydenis van Christus. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van julle sondige geaardheid. Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe. Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het!

Julle was eintlik dood omdat julle gesondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewendig gemaak. Hy het ons al ons sondes vergewe.

Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker. So het Hy die regeerders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.

Moet dus nie toelaat dat enigiemand julle veroordeel oor wat julle eet of drink, of oor die vier van sekere feesdae of die Nuwemaanfees of Sabbatte nie. Al hierdie dinge is net ’n skaduwee van wat sou kom. Die ware werklikheid is Christus!” (Kol. 2:9-17)

Dit is wat met ons gebeur het! So het God ons nuutgemaak en wederbaar. So het Hy ons vrygemaak en verlos.

“Aangesien julle, deur saam met Christus te sterf, die bose wêreldse magte afgesterf het, waarom leef julle nog volgens wêreldse voorskrifte soos: ‘moenie vat nie’, ‘moenie dit eet nie’ en ‘moenie aanraak nie’? Dit is alles dinge wat verbruik word en vergaan – soos dit gaan met mensgemaakte voorskrifte en leringe. Met hulle selfuitgedinkte godsdienstige toewyding, selfvernedering en streng liggaamlike dissipline het hierdie voorskrifte nogal die reputasie dat hulle wysheid bevat. Inderwaarheid is hulle nutteloos vir die beheer van die sondige geaardheid.” (Kol. 2:20-23)

As ’n mens wat deel is van die Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap, het ons nou God se Gees wat in ons woon as ons nuwe Wetgewer en sê Hy vir ons wat reg en verkeerd is vir ons lewe van elke dag. Hy is ons nuwe Wet.

Daarom mag ons nie toelaat dat iemand ons ooit weer met allerlei wette en godsdienstige tradisies bind en verslaaf nie. Christus het waarlik ons Weg, ons Waarheid en ons Lewe geword.

Volgende keer gesels ons met mekaar hoe hierdie geloofswerklikheid ons hele lewe en lewensstyl beïnvloed.

Scroll to Top