Jy ken die liedjie; “Hoe ry die boere? (sit-sit so, sit-sit so…)” Ek het my teorie dat hierdie liedjie dalk geskryf was in die tyd dat Voortrekkers met hul waens oor berge en dale rond karjakker het. Ek vermoed voorts dat die “sit-sit so” ontstaan het weens die wawiele wat gate getref het en hulle – sit dan so aan diekant en dan sit-sit hulle so aan daaikant van die wa.
Goed, sing nou (of neul hom saggies) die einste liedjie in jou gedagtes en visualiseer hoe die ooms, tannies en dalk die kinders, as hulle voor mag sit, die liedjie sing terwyl hulle ritmies rondgeskud word van die een kant na die ander…
Ek weet nie of jy bewus was daarvan nie, maar kinders was nie toegelaat om voor op die bankie te sit nie. Dit was ingestel vir hulle veiligheid, nie vir botsings soos in vandag se tyd nie, maar as hulle oor daai einste hobbel of gat sou ry, en so in die sit-sit-so liedjie dalk soos ‘n boog deur die lug sou trek en agter een van die beeste te lande sou kom wat sopas jy weet “gewat” het…
Die probleem was eenvoudig – water was nie gemors op gesigwas nie. Punt.
Iets soortgelyks het my ook oorgekom, nie die afval nie, maar wel die slaggate. Dis eintlik ‘n groot verrassing dat my motor se lugkussingtoestelle nie ontplooi het nie. Terwyl ek “verviestelik” in die truspieeltjie probeer vasstel waardeur ek is, tref die volgende slaggat my voertuig dat my tande se stopsels soos kleingeld in ‘n jool “bedel blikkie” klingel. Toe sing ek nie onse boereliedjie nie, toe “rap” ek hom op een noot!
In ons geestelike lewens is ons soms ook geneig om te tob oor dinge wat in die verlede gebeur het. Dit veroorsaak dat ons, ons oë van Jesus afhaal, perspektief verloor en dan in ‘n emosionele maalkolk beland waar ons vrede en lewensvreugde gesteel word. Maak jou dan vandag los van alles wat jou vashou en strek jouself uit na Jesus wat voor is en kom in Sy rus in.
Vader, dankie dat U die begin en die einde is, dankie dat niks by U onmoontlik is nie. Wys my vandag wat tussen ons mag staan, help my om los te maak, U hand te neem en die perfekte pad saam met U te stap. Amen.
Vreugde, Johann