“Poedingbakkies” was sy naam. Ek en hy was sedert st 5 saam in die klas, in dieselfde koshuis en nogal goeie pêlle. Dis Villiersdorp se wêreld hierdie. In teenstelling met Nollie se geweste het ons krieket pitch darem taai gebly en nie uitermatig uitgedroog nie.
Poedingbakkies het nie verniet sy naam gekry nie. Hy was nie juis sportief en het nooit regtig deelgeneem aan sosiale aktiwiteite nie, maar laat daardie mannetjie vir jou agter ‘n klavier inklim en jy het vir hom respek gekry. Daarby het hy so ‘n effense boggelruggie gehad – niks êrnstig nie, maar tog ‘n bietjie geboë.
“Tier” was die naam van ons geskiedenisonderwyser. ‘n Legende uit eie reg en in die laat sewentigs was hy laaaaankal op pensioen, maar hy het kom aflos vir ‘n jaar of wat. Wanneer hy gepraat het het die breiery jou laat besef; hy’s ‘n man van daai geweste. Tier het nooit ooit wat ek hom geken het ooit ‘n handboek oopgemaak nie, hy kon jaar in en jaar uit geskiedenis opdis, so asof hy daardie boeke self geskryf het. Brander op brander feite het hy teen ‘n ritmiese gang periode na periode voorgedra. Durf jy ooit feite vergelyk uit die boek het hy jou vinnig laat verstaan. “Die boek is vergkeergd, ek is rgeg”
Hy was korterig, en hy het die manier gehad om soms sy bril af te haal, en terwyl die bril se raam so op sy mond gerus het, het hy diep in gedagte al peinsende geskiedenis soos ‘n storie oorvertel het, so asof daar ‘n film afgespeel het teen die muur.
Dis hier waar Poedingbakkies weer inkom. Vir ‘n standerd 8 laaitjie was geskiedenis nou nie juis een van sy gunsteling vakke nie. Maak nie saak hoe diep en interressant geskiedenis uitgehaal kon word uit die verlede nie. Poedingbakkies het redelik agter in die klas gesit, langs my. Vroeg reeds in die periode het hy papier begin kou en so deur die periode natuurlik al hoe meer honger geraak en meer papier in sy mond gestop. Teen die tyd wat hy dit uitgehaal het was dit al pap gekou en dis toe dat die “clown” in Poedingbakkies na vore gekom het. In ‘n oomblik van “this is so not Poedingbakkies…” plak hy daardie papperasie op sy liniaal se punt en span hy die liniaal soos ‘n voorlaaier terwyl hy mik na Tier se wêreldkaarte.
Tier hop soos hy skrik, toe die papperasie teen die Sahara Woestyn klap, duidelik nie heeltemal seker wat gebeur het nie.
Teen hierdie tyd is Poedingbakkies die “hero”. Die nar in hom het geen keer nie. Soos Tier kon meegesleur word na ‘n wêreld van die verlede, so is Poedingbakkies in vervoering oor die aandag wat hy kry. Katjie van die baan is ‘n mak beskrywing. Repe op repe papier verdwyn in sy kieste terwyl sy oë vonkel van plesier. Net om hom waar te neem maak almal histeries van die lag.
Voor in die klaskamer is Tier reeds weer in vervoering oor ‘n veldslag en agter in die klas is “Dingaan Poedingbakkies” besig om sy liniaal oor te haal vir die volgende sarsie. Katjie van die baan beklee die nr 1 “spot” van aandag.
Tier het nog so in gedagte gestaan, diep denkende, bril se raam liggies op sy mond, besig om die volgende woorde te formuleer toe die papier-papperasie hom tref – op die wang. Splat!!…
Arme Tier word uit die geskiedenis geruk tot hier heel voor in die teenswoordige tyd. Hy ruk soos hy skrik.
‘n Doodse stilte word soos ‘n kombers oor die klas getrek. Poedingbakkies is egter weg…
Genadiglik lui die klok, maar die seuns moet bly sit. Die “hero” is nou ‘n “zero” en steeds onsigbaar.
Stadig kom ‘n hand naderhand van onder uit ‘n bank uit. Poedingbakkies loop bleek voor Tier uit na die afrolkamer. ‘n Tier met ‘n rottang beteken groot moeilikheid.
Vandag as ek daaraan terugdink lag ek vir kindwees. Ongelukkig druk ons ook soms ons geluk net te vêr Net daardie een treetjie te vêr. Een woord te veel, een aksie te veel. Ek dank die Here dat Hy ‘n God van genade is. Dat ons keer op keer van voor af kan begin.
Het jy dalk nodig om vandag “halt” te roep? Moet jy dalk weer na binne kyk. Weer voorraad opname doen. Weer kyk waarheen jou lewe oppad is?
Moenie jou lewe verder mors nie. Dis nie die moeite werd nie.
Johann