“Unidentified hopefully consumable objects”

Food

“Wat moet ons hiermee maak?”

“Wat is dit?”

“Nie ‘n idee nie. Hoort dit hier? Is dit eetbaar?”

“Ek kan nie sê nie. Kry een van die ouer garde om hierna te kom kyk” “En terwyl jy daarmee besig is, kyk in die argiewe of jy iets daaromtrent kan opspoor”

“Wat moet ons intussen daarmee maak? Moet ons ‘n noodtoestand afkondig en almal op ‘n gereedheidsgrondslag plaas?”

“Om veilig te speel, verseël alles. Niks kom in en niks gaan uit nie. Stop sommer die hele proses ook. Ons moet eers uitvind waarmee ons hier te doen het”

Dit is hoe ek die situasie in my ingewande voorgestel het nadat ek myself op ‘n…wel…verpligte dieet geplaas het. Ek en Zelda ry in die motor en my maag pyn erg sedert ek middagete onder andere, blaarslaai, tamaties en komkommer geëet het. Ek lig haar in oor my “toestand” en verduidelik dat hulle (my ingewande) geen idee behoort te hê van wat blaarslaai, tamaties en daai goedjies is nie. In my consumable databasis is daar waarskynlik net ‘n paar inskrywings;

Vleis, hoender, wors, eiers, aartappel, roomys, sjoklits en dan variasies hiervan soos biltong, droeëwors, aartappelskyfies en melkskommels.

Vaagweg sal hulle dalk consumables soos pampoen en ertjies kan optel, maar dit sal met aankoms aanvanklik agterdogtig begroet word.

Ek praat van ‘n vrywillige dieet, maar eintlik het ek gehoop Zelda vat dit nie kop toe nie en steur haar nog minder aan my geselsies oor alles en nog wat saamgaan as jy week na week nuwe all time rekords oorskry. Die skaal wonder telkemale wat dit verkeerd gedoen het om so gestraf te word. Ek put die badkamerskaaltjie blykbaar so uit met elke weegsessie dat dit elke 2de dag van ‘n nuwe batterytjie voorsien moet word. As badkamerskaaltjies hulle sin kon kry sou hierdie een in alle waarskynlikheid dalk gevra het vir pynpille en Deep heat ook! Die skaaltjie vra my of ek nie kan lees nie. Ek vra hoekom. Hy sê maksimum 125kg op een slag. Ek antwoord. “Geen probleem nie, ek sal twee keer opklim”

Nou ry ons so in die motor en ek vertel vir Zelda hoekom ek regtig gewig moet verloor. Na my derde sin laat val sy iets van “over sharing”. Intussen is alles hier binne my op “hold” gesit. Vals alarms lui kort kort en my maagpyn gaan nie weg nie. Ek dink aan die apteker wat vir iemand (wat vir die soveelste keer terugkom met ‘n hoesie wat nie wil weggaan nie) lakseermiddel ingegee het. Verbaas vra die assistente toe vir hom hoekom hy so iets gedoen het. Hy antwoord toe “Hy sal nie weer waag om te hoes nie”

Interne rebellie en oproer sal vir die eerste paar dae deel wees van die nuwe ek. Sodra hulle hulle databasis op datum gebring het sal die unidentified consumables plek maak vir welcomed consumables and ‘n paar manne daarbinne waarskynlik nie meer ‘n werk hê om alles so wyd en suid te karwei net om dit te gaan stoor nie.

In ons geestelike lewens gaan dit soms nie beter nie. Ons is so vas in ons denke dat ons onbeweegbaar bly om onsself oop te stel vir die inwerking van die Gees. Inteendeel, ek dink dat hierdie dalk ‘n baie groter probleem kan wees en verseker nie net beperk word tot sekere kerkverbande nie. Mense is of, so vas in tradisie van godsdienstigheid, of aan die anderkant, so emosioneel beinvloedbaar dat alle perspektief verloor word. As dit dan nie so was nie, hoekom is daar soveel kerke en sienings?

Hoe gaan Jesus my kan aanwend of gebruik as ‘n instrument, as ek nie bereid is om te luister nie?. Hoe gaan ek ‘n woord van bemoediging spreek as ek nie ‘n oor het wat wil luister nie. Hoe gaan ek ‘n dissipel wees as ek nie bereid is om in myself te sterf nie.

Kom ek sê jou hoe. Ek sal my eie instrument (van diensbaarheid) skep en dit af forseer in my kerk. Ek sal woorde van bemoediging spreek wat ander mense sal veroordeel en pynig. Ek sal ‘n dissipel wees wat my eie standaarde stel.

Hoe weet jy of jy onbeweegbaar is in jou denke? Dis eenvoudig. Vra jouself af wanneer laas het jy God die reg gegee in jou lewe om dit wel ten goede te verander? God gebruik nuwe denke om ook vir jou ‘n nuwe lewe te gee.

Jy hoef nooit vir God bang te wees dat Hy jou lewe sal omdop en verontrief nie. Of dat God nou vir jou gaan laat swaar kry om jou te toets nie. Dis juis onbeweeglike denke wat al vir generasies oorgedra word en mense in gevangenisskap hou sodat hulle nie daardie stap wil neem om lewensboedel oor te gee nie.

Jy kan maar vandag vir God vertrou. Begin net by een plek, erkenning (dat jy God nodig het en dit nie op jou eie kan doen nie) en behoefte (dat God jou ‘n nuwe lewe sal gee deur jou denke te verander)

Johann

Scroll to Top