Met elke hoesie word ek deur Zelda vermaan. Dis al reeds drie weke gelede dat ek by die dokter was. My antobiotika en ‘stropies is lankal op. Ek het al selfs al die half leë hoesstroop botteltjies in al die badkamerkaste deurgewerk. Zelda sê sy wonder of ek nie dalk aspris hoes om tog net ‘n lekseltjie stroop te regverdig nie. Ek moet sê van daai geurtjies is nie te onaangenaam nie…
So gaan dit aan vir dae tot ek eenkeer so aan die hoes gaan dat amper uit-pass. Zelda het nie eers weer ‘n vriendelike vermaning na my kant toe gepos nie, sy het net laat weet hier van agter af; “That’s it” jy gaan dokter toe. Haar stemtoon het vibrasies ingehad wat ek mos nou al by die tyd weet, nou antwoord jy nie, jy skud net jou kop instemmend, en hoe groter jou oë, des te veiliger!
Die volgende dag is ek nog besig met ‘n klient toe ek saggies getik word op my skouer en sy met geen onduidelike gebaar wys; dis tyd. Tyd om te ry.
Die dokter was nie eintlik verbaas gewees nie. Hy het my net geluk gewens dat ek dit sovêr gemaak het. Ek klink vir hom soos ‘n kinkhoes bobbejaan in die vallei van verlatenheid. “Maar” sê hy vir my met die beklemtoning op “maar”. “Nou dat ek daar is, kan hy my sommer ‘n inspuiting gee om die hoes te onderdruk.”
“Nê?”
“Hoekom gee Dok nie eerder vir my pergasie-pille nie, dan sal ek dit verseker nie waag om te hoes nie..”
Hy grinnik en ek wandel agter hom af na die nurste toe. Jy weet, dis altyd ‘n trap. Hulle is te bang om hulle eie vuilwerk te doen, nou kry hulle ander kwaaier tannies om in te staan. Ek loop agter hom aan, skouers hang laag en ek brom iets van ‘n slagskaap.
Dok sê die enigste newe effek is dat ek mag gloei en dalk te veel energie sal hê om te slaap. “Kan ek more terugkom” vra ek half sinies. Nou bedink ek myself hoe ek sal lyk as ek aan die gloei gaan. Gaan dit lyk of ek permanent bloos, dalk moeg geoefen of selfs erger, gaan dit lyk of ek dalk te diep in die bottel kyk en heel jollie patrollie is. Ek sien al hoe ruk ek Zelda se naam as ek saam met hulle in die Mall is en ek loop en slinger daar rond…sing dalk hardop ‘n liefdes liedjie vir haar uit volle bors?
Nou ja; toe daardie suster ingestap kom, probeer ek met my fronsende staar om haar te ontsenu. Dit werk nie lekker nie, sy steur haar nie regtig aan my frons nie. Ek probeer ‘n alternatief; skrefies ogies, saamgeperste lippe en opgeblaasde wange. Nope, dis ook tevergeefs. Ek gee toe maar my samewerking… en stap al gloeiende daar uit.
Soms hardloop ons ook maar spreekwoordelik vir die Here weg; Môre, volgende week sal ek ‘n plan maak, reg maak. Weet net een ding; die Here sal jou nie los nie – jy is te kosbaar vir Hom. Hy was bereid om vir jou Sy lewe af te lê. Draai eerder om en hardloop terug in Sy arms in. Dis in elkgeval die beste plek om te wees.
Johann