Kennis of boesemvriend

masai0108

Onlangs op TV was daar ‘n dokumentêre program oor die Masai en veral oor hulle krygsmanne. Met hulle kenmerkende rooi kledingstukke is hulle dalk die Westerse ekwivalent van ‘n Pierre Cardin. As jy dalk nog wonder wie die ouens is, sal jy seker nou weet as ek vra, “Het jy al die ouens gesien wat so op een plek staan en spring?”

Wat vir my egter van die Masai krygsmanne opval is die trots om geklassifiseer te wees as ‘n kryger. Hulle dra bv. hulle hare lank, het baie ornamente en tradisies. Maar dan kon daar ‘n dag waar hulle tydens ‘n groot seremonie afstand doen as kryger. Tydens die ritueel word hulle hare afgesny en dan is dit vir altyd verby. Hulle is nou gewone lede van die stam. Daar is nie sekere tye of situasies wat hulle kan regverdig om weer die wapens of die titels op te neem nie, dis verby.

Wanneer ons Jesus Christus aanneem as ons Verlosser, dan moet ons ook ons ou lewe aflê. Ons kan nie nog vashou aan sekere goed van die verlede nie. Dit bring baie verwarring en die pad wat jy dan met die Here loop is onvervuld. Inteendeel dit is eintlik baie moeilik want in die geestelike realm gebeur daar baie meer as wat jy ooit kan besef. In Efesiërs 6 som Paulus dit so op; Hy sê dat “ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die heersers van hierdie wêreld, teen die bose geeste in die lug.” Dit bring mee (beteken) dat die satan heeltyd vir jou probeer beïnvloed om nie ‘n verhouding met Jesus te hê nie. Om Jesus aan te neem is die keuse wat jy maak om vergifnis te ontvang vir jou sonde, dis weens die oortuiging van die Heilige Gees, om erkenning te gee dat Jesus jou Verlosser is, jou kindskap met God te beseël en die ewige lewe te beërwe.

Maar as ons nie afstand doen van die ou lewe nie, sal Jesus nooit meer as ‘n kennis wees nie, iemand wat jy so af en toe ontmoet en dalk ‘n vinnige koffietjie saam mee geniet nie. Dink hoe is die verhouding tussen twee boesemvriende. Hulle weet alles van mekaar, deel alles, bespreek alles, doen alles saam.

As Jesus nie jou Boesemvriend is nie, loop jy die gevaar dat satan jou stelselmatig so gaan beïnvloed (afbreek) dat, as jy weer jou oë uitvee, jy net sal onthou van ‘n dag in die verlede waar jy jou hart vir Hom gegee het. Jy sal geen krag meer ervaar nie. Jy sal maar weer in elke storm tussen die golwe ronddobber, geen vooruitsig, geen vreugde, geen lewe.

En op die koop toe het jy ‘n nuwe boesem pêl opgetel, iemand vir wie jy heeltyd moet koffie koop en koek aandra…

Here ek maak so min tyd vir U, ek is jammer. Ek sukkel om my verhouding met U op dreef te kry. Dankie dat ek kan roem op U genade. Help my asb.

Johann de Jager (Ministriesworldwide.net)

Scroll to Top