Slange is nie iets wat ek deel van my gemaksone beskou nie. Sien ek ‘n slanghanteerder op TV doenig met die goetertjies, wag ek vir die “YouTube Failed” oomblik. Gebeur iets op die skerm, skrik en ruk ek meestal met ‘n bypassende voegwoord daarby.
Dit was geen uitsondering toe Zelda, my wonderlike vrou, my een aand laat na die kombuis ontbied nie.
“Kom help!, hier is ‘n slang!”
“‘n Wat??…”
Ons kombuisdeur maak oop in ‘n klein afskorting wat met bakstene gebou is met ‘n uitgang na agter. Sy wil uitgaan, maar reg voor haar sit ‘n Amazon Anaconda wat altyd in die flieks speel. Ingewurm tussen die groefies van twee bakstene kyk die ding vir my met ‘n gesindheid wat regtig stink.
Daai houdingtjie van hom sê : “Something bad is gonna happen pal“
“Wat wil jy hê moet ek doen?”, vra ek.
“Vat hom weg!”
“Weg, waantoe!?”, antwoord ek met ‘n stemmetjie wat begin klink soos toe my stem begin breek het op 16. Duidelik besef sy nie dat voor ons by die “weg” kom moet hierdie “monster” eers gevang word. En die margarine bakkie wat sy aanbied vind ek amateuragtig en ‘n belediging.
“Jy is die man in die huis”
Wel “hierdie man” het ‘n uitvoerende bevel uitgereik; “Maak toe die deur, wat jy ook al buite wou doen, kan wag tot môre.”
“Wat as dit vanaand onder die deur seil.” (perspektief : 2mm)
“Pak dit toe met handdoeke (of sandsakke en bel die polisie, as ek sarkasties wou wees).” antwoord ek haar vanuit die gang terwyl ek ‘n retireer na ‘n veiliger posissie verder af in die huis.
“Blykbaar” is daar fotos geneem en dit het opgeëindig by ‘n slangkenner wat sy lag nie kon hou nie en laat weet het dit is ‘n onskadelike bruin huisslang.
“I rest my case”
Dit laat my net weer dink aan soveel kere waar probleme oor ons pad kom, en ons in die oomblik altyd die ergste verwag. Dis wanneer ek altyd na die Here toe draai en Fil 4:7 uitspreek en bid; “Here U is in beheer, U het reeds die uitkoms bepaal. Laat U vrede wat alle verstand te bowe gaan, oor my hart waak en ek in U vrede wandel”
Die probleem is dalk nie onmiddelik opgelos nie, maar ek kan sonder om my lewensvreugde in te boet, aangaan.
Vreugde!
Johann
Foto : https://www.reddit.com/r/whatsthissnake/comments/oaw4c2/brown_house_snake_vioolsdrift_south_africa/




