‘n Goeie bui reën in ons buurt veroorsaak dat die onderdak parkeerarea vir ‘n paar dae sowat 3 cm diep onder water is. Dis net die een helfte wat die probleem het. Ongelukkig die gedeelte waar my motor geparkeer word. Dit los jou met ongeveer een meter wat jy moet rek om nie in die water te trap om in te klim nie.
Vir my beteken dit egter dat ek lyk soos ‘n oorgewig ballerina wat Swan Lake vertolk as ek in die motor probeer klim.
Die rek-en-trap is stap 1. Stap 2 behels dat ek dan moet gaan sit. Daarvoor moet ek my lyf ‘n draai gee soos ‘n kurktrekker. Op hierdie stadium lyk ek soos ‘n swemmer wat rugslag doen… buite die water. En dis gewoonlik hier wanneer ek agterkom my bene is te kort en tussen die krampe deur moet ek momentum gebruik om my lyf en bene binne die motor te kry.
Gewoonlik eindig ek op met ‘n nat hakskeen, maar ten minste kan ek regdraai en my sit kry.
Ek ken derhalwe die dril.
Vandag was geen uitsondering behalwe dat die motor effens verder van die “wal” geparkeer was. Met my “Swan Lake” aksie voltooi, besef ek onmiddelik dat die krampe wat gewoonlik volg na my “rugslag aksie” het plekke omgeruil en begroet my terwyl ek nog oor die water gesplit staan. Al uitweg is dat ek die “kurkprop en rugslag metode” in een aksie en met meer momentum sal moet doen.
Alles werk perfek, tot ek besef my dogter het laaste die motor bestuur en die sitplek tot heel voor verstel. Daar sit ek, dwars oor die sitplek, my knieë verby my ore, my arms uitgestrek soos iemand wat “hênsop” en my lyf vasgepleister soos ‘n kleibolletjie teen ‘n muur.
Ek het wel daar uitgekom, kortasem, redelik nat, sonder een skoen en vol krampe.
Johann de Jager (ministriesworldwide.net)