Dis soet, bevrydend en waar

cornekrige

“Vandag weet ek wat ek moes gedoen het. Ek moes aanhou stap het. … Maar wysheid agterna maak van ons almal kenners. Cornè Krige Rapport 30/10/2005.

Hierdie opmerking het Cornè Krige gelewer na Kamp Staaldraad. Hulle was verplig om in die koue water te bly. Dit laat my dink aan soveel situasies waarvandaan ek self al eerder in my lewe moes uitstap het. Hoekom kom ons nie so vêr om dit te doen nie? Persoonlik dink ek dit het ook te maak met vrees, vrees vir die onbekende. My toekoms word dalk bedreig, wat gaan mense van my dink, ek gaan lekker stupid lyk, ek gaan my naam ruk. Kom ons maak dit meer avontuurlik, ek kan dit hanteer, dis nie so erg nie.

Die ander faktor wat hand aan hand gaan is dat jy maklik ‘n slaaf kan word. Wanneer jou logika (gewete) daardie eerste keer vir jou sê; “Hokaai Boet, dis verkeerd, dit werk nie so nie!” en jy reageer nie dadelik om hierdie situasie aan te spreek nie, begin jy weldra gewoond raak aan situasies wat ontstaan en as jy jou kom kry doen jy lekker daaraan mee. Dan lyk en voel dit vir jou selfs reg.  Dis ‘n strik waarmee die satan jou gedagtes gevange neem en jou sy wil laat doen. Hierdie het al in my persoonlike lewe ongelooflike pyn en hartseer vir Zelda gebring. Weet jy hoekom?, sy was in die eerste plek nie bereid om verstrengel te raak nie en tweedens kon sy sien wat besig was om te gebeur.

“Agterna is ons almal kenners”, sê Cornè. Dis waar. Miskien moet jy die volgende keer luister as jou man of vrou, jou vriend of vriendin hierdie dinge met jou deel. Gewoonlik kan hulle ‘n nugter onderskeiding maak. Dis gewoonlik iets wat jy nie wil hoor nie, of jy is so diep opgeslurp jy weet die enigste manier uit is om gefire te word as jy nie meer saam met die stroom wil gaan nie.

Was daar maar net ‘n maklike manier uit het ons almal dit seker gedoen. Gelukkig het ons God aan wie ons eerstens hierdie kan openbaar maak en tweedens die situasie oor te kan gee aan.

Johannes 8:32 sê dat die waarheid ons sal vrymaak. Glo dit, dis soet, bevrydend en waar.

Begin vandag lewe, my Boetie en Sussie.

Johann

Scroll to Top