As jy al vantevore op die internet gekyk het na Google Earth of selfs Google se Street View funksie, dan sou jy seker soos ek ook verbaas gestaan het oor wat die sagteware jou alles bied. Eweskielik is die hele wêreld binne bereik vanuit jou rekenaar.
Die afgelope week terwyl ons besig was met ‘n nuwe webwerf funksie om ‘n perseel se roeteaanwysings te skep, het ek so vanuit die perseel verder uitbeweeg. Die buurt was later daar, toe die stad, toe die provinsie, later net Suid Afrika en op die ou einde die hele wêreld wat oorgebly het. Die aanwyser waar die perseel is, was nog op sy plek en ek het net weer my kop geskud oor hoe klein die mens eintlik is. Hoe nietig en kwesbaar.
Ek dink aan God se Woord waar Hy sê dat hy selfs weet van elke haar op ons kop. Dit laat my net weer besef hoe groot God regtig is. Daar is niks of niemand wat ons kan ruk uit Sy liefdevolle hand. Hy het alles onder beheer en weet van alles. Ons kan met vrymoedigheid na Hom gaan.
“Vader, hoe groot is U! Dankie dat U nooit slaap of sluimer nie. Dankie dat ek veilig is by U. Amen”
Johann de Jager (www.ministriesworldwide.net)