fog2807

Een oggend was Bloemfontein gehul in ‘n miskombers. Vir Bloemfonteiners is dit nie ‘n gereelde ding nie en dit hou so half en half iets misterieus in. (Dalk is dit net ek…)

In Pietermaritsburg se omgewing het ek waargeneem dat padtekens spesifiek aangebring is om aanwysings te gee wanneer dit mistig sou wees. Mistigheid beteken dat jy geensins vêr vooruit kan sien nie. Jare gelede was ons een naweek in Golden Gate en ek en my jongste het die berg aangedurf. Ons het al langs die kruin geloop en ‘n gedeelte hiervan sou deur wolke gewees het. Jonè se opgewondenheid het geen perke geken nie. Sy sou aan die wolke kon “vat”. Op ‘n stadium sê sy: “Zelka (haar ouer sussie) sal my nie glo nie, ek moet vir haar van hierdie wolke saamvat in ‘n bekertjie”

Natuurlik, soos in mis, het jy maar ‘n radius om jou wat sigbaarheid betref en dit was vir Jonè een te veel. Te midde van die wolke rondom haar kon sy nie daaraan vat nie. Dit was vir haar ‘n groot teleurstelling en dit het Pa se beste Aardrykskunde gevat om hierdie konsep aan haar te verduidelik…

Ek dink ons verhouding met God is dalk ook soos ‘n mistige landskap. God wys ons nie noodwendig wat daar voor aangaan nie, ons kan in ‘n radius rondom ons sien soos ons op ons lewenspad voortbeweeg. Gisteroggend toe ek Jonè skool toe vat, weet ek die skool is daar êrens voor in die pad, dit sal binnekort sigbaar raak, ek het nie gewonder of die skool daar gaan wees nie. Ek het aangeneem en aanvaar dat dit daar gaan wees.

In my lewe en ‘n nuwe onbekende pad wat ek loop, val ek baie keer vas om te aanvaar dat alhoewel God bevestig het dat ek sal arriveer, ek dit soms nie in geloof wil aanvaar nie. Ek wil eintlik nou al daar doer voor sien wat gebeur.

In mistigheid is bestuur vanselfsprekend gevaarliker, ek moet op die uitkyk wees vir ander motoriste. Slaggate wat die vyand hier in jou onmiddelike sigbare omgewing vir jou stel is altyd daar om jou te pooitjie en te sink in ongeloof.

Geloof word in Hebreërs 11:1 beskryf as: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

As jy dalk soos ek soms sukkel om permanent in geloof te wandel, moet jy nie sleg voel nie, meeste sukkel ook daarmee. Ek glo nie hierdie is iets wat jy bloot kan uitspreek en opeis nie (“name it and claim it”). Hierdie is ‘n dag tot dag leerproses (en oorwinning). Soms moet ek terugval in die verlede om my te herhinner aan situasies waaruit die Here ons gehelp het. Dit word baie keer my bewys dat God in hierdie mistigheid rondom my wel my bestemming êrens daarvoor het. Soms gebruik ek selfs daardie vorige situasies of getuienisse om juis my geloof te bou vir dit wat voorlê.

As jou bootjie vandag doelloos ronddobber in stormweer, draai dit landwaarts en begin roei, weet net dat wanneer Hy praat, die storms vir Hom luister.

Johann

Scroll to Top