Tydens ‘n diens gee die prediker die geleentheid vir mense om ‘n getuienis te lewer. ‘n Baie welgestelde man staan op en sê; “Ek is ‘n multimiljoenêr en dit is alles te dankie aan die ryklike seëninge van die Here.” sê hy.
“Ek kan nog die draaipunt van my geloof onthou asof dit gister was. Ek het sopas my eerste R100 verdien en het daardie betrokke aand ‘n diens bygewoon.
Die prediker was ‘n sendeling wat kom praat het oor hulle werk en ek het besef dat ek net die een R100 noot gehad het. Ek sou of alles of niks moes gee vir die Here se werk. Op daardie oomblik het ek besluit om die hele bedrag te gee. Ek glo dat God my besluit geseën het en dit is die rede hoekom ek vandag so welgesteld is.”
Toe hy klaarmaak was dit duidelik dat hy die gemeente diep geroer het met sy getuienis. Net toe hy egter gaan sit leun ‘n bejaarde dame in dieselfde ry banke as hy oor na hom sê: “Wonderlike getuienis, ek daag jou uit om dit weer te doen!”
Mens kan seker net dink wat toe gebeur het, maar eintlik is daar soveel situasies (daagliks) in ons lewens waar ons gekonfronteer word op dieselfde wyse. Nie dat ons noodwendig ‘n stelling maak nie, maar waar ons die keuse moet maak om God se wil te gehoorsaam. Baie jare gelede het Zelda eenkeer van werk verander en sy het geweet dat dit nie die regte besluit was in Sy wil nie, maar die geld was soveel beter en finansieël die moeite werd. Dit was egter die slegste tyd van haar hele loopbaan.
Vandag het ons al geleer dat vrede tussen man en vrou of tussen jou broer of sussie in Christus, ongeag die omstandighede een van die regmerke moet wees. Inteendeel, besluite in ons besigheid word deur die hele gesin geneem. Die probleem kom in dat as my eie wil nie uitverkoop is aan Vader nie, my persoonlike gevoelens my besluite sal beinvloed. Die teks van hand aan die ploeg slaan en omkyk en as die koringkorrel nie in die grond val is maar eenvoudig net ‘n verwysing daarna dat ons iewers op ‘n punt moet kom waar ons uitverkoop. Gelukkig vat die Here bankkrot en sterk boedels net so maklik.
As jy hierdie lees en daar is iewers die oortuiging, hoe sterk of hoe flou ook al, om reg te maak met Jesus en jy is nie seker wat om te doen nie, begin net iewers deur Hom die reg te gee in jou lewe.
Die Bybel sê as Hy by jou hart se deur kom staan en klop, jy maak oop en laat Hom in, dan kom hou Hy ‘n feesmaal by jou. Daar staan nie geskrywe dat jy eers alles moet polish, regpak en jouself moet afsloof vir ure voor die stoof en dalk iewers ‘n nota moet maak in jou dagboek vir ‘n geskikte tyd nie. Nee, net ‘n eenvoudige “Here ek moet oor begin, help my, ek gee boedel oor.”
En los die res vir Hom.
Johann