Kies die regte profiel

Base Jumping

Een aand op TV Nuus wys hulle ‘n brug in Amerika, amptelik die langste boogbrug in daardie land. Op hierdie brug het duisende mense saamgetrek om na ‘n groepie mense te bekyk wat die sogenaamde “base jumping” doen.

Nou die wat nie weet wat die “base jumping” (My verklaring van BASE: “Baie Aksie Stunning Einde”) ding is nie, dit het letterlik ontstaan toe ‘n paar Tarzans die moed bymekaar geskraap het om vanaf hoë geboue, die Eifeltoring, brûe en soortgelyke voorwerpe, te spring. Die enigste kruks was gewoonlik dat jy moes verseker jy maak jouself uit die spore voordat die polisie jou in hegtenis kon neem. Natuurlik was hierdie “base jumpers” ‘n uiterse irritasie vir die polisie, nie gepraat van die verleentheid omdat hulle nie die testosteroon-mannetjies kon vastrek nie.

Nou goed, hierdie “base jumpers” het al redelik gesofistikeerd geraak deurdat hulle meer wetlik begin spring het en dis nou hier waar die brug weer inkom. Ek was verwonderd oor die mensemassa wat daar aanwesig was. Eerstens was daar die “pro’s”. Dis nou die manne met die ondervinding. Hulle het soms snaaks aangetrek en die meeste aandag probeer trek. Dan was daar ook die mense wat op hierdie dag moed bymekaar probeer skraap het om oor hierdie brugheining te spring, valskerm in die hand, net om sodra hulle genoeg spoed opgetel het (wat nodig was om die valskerm te laat ontplooi) die lootsvalskerm te los en te hoop hulle val hulself nie te pletter aan die onderkant nie.

Dan was daar mense, die meeste van hulle wat net hierdie sogenaamde malligheid “aanskou” het van ‘n veilige afstand, maar beslis nie wou deelneem nie.

Daar was egter van die eerste-keer-mense wat deur al die moeite gegaan het om valskerms aan hulle te gespe, instruksies te ontvang, en bo-op hierdie brug geklim het, die aftelling aangehoor het, MAAR toe die werklik hulle tref, summier besluit het; “Hierdie is nie vir my nie”. Punt. Hulle kon nie oorreed word om te spring nie.

Wat was fout? Wel om eerlik te wees, in die eerste plek dink ek persoonlik dis “stupid”.  Dink ‘n bietjie daaraan : Jy spring by ‘n brug af en eerstens hoop jy om te onthou om daardie valskermpie te los sodat die hoofvalskerm kan opgaan. Wat van as jy vries tussen êrens en nêrens? Jy lyk soos ‘n vlieënde glimlaggende “po-po” En die glimlag is nie omrede jy dit snaaks vind nie, NEE dis oor die “G-forces” wat jy trek oppad ondertoe. Jy lyk soos die Interflora-mannetjie wat huppel oor blommetjies met ‘n fakkel in een hand.

Komaan……

Verstaanbaar het sekere mense nie die moed om daardie stap te neem, daardie stap wat jou lewe sal verander vir die res van jou lewe, nie. Hier staan jy op bekende turf, maar binne die volgende tree of twee gaan daar soos in niks turf onder jou voete wees wat enigsins bekend gaan voel nie. Jy gaan ‘n trap in geloof moet neem, jy moet dit vir jouself kan uitmaak of jy geloof het dat hierdie valskem gaan oopmaak. As jy jouself nie sovêr kan oortuig nie, is jy een van die duisende mense wat daar staan en toekyk.

Daar was ‘n ander omie en tannie, wat redelik (en beide ingesluit) vol bravade en luiddrugtig was dat “AS HULLE 20 JAAR JONGER WAS”, hulle dit definitief sou doen. En ek uiter die volgende kommentaar in my beste Amerikaanse aksent; “Yeah sure” . Grootmond (as jy my vra), want daar is nie druk op hulle om dit te doen nie. Maklik om te sê “as-ek-was”.

Die ander manne wat reeds al hierdie “stap in geloof” ‘n paar maal herhaal het, en gemaklik begin raak het, het toertjies uithaal. Hulle doen bollemakiesies, flips-flaps en wie weet watter moeilike Afrikaansspelbare woorde nog nie!

Ek kon nie anders as om ‘n geestelike konnektasie te maak nie.

1. So baie “gelowiges”, die meeste van hulle egter nie bereid om regtig die Here te vertrou nie. Sien nie daarvoor kans nie (Die toeskouers)

2. Van die “as-ek-was” mense, vol grootpraat stories van hoe goeie kinders hulle van die Here is, maar die Here net wil ken as hulle Hom nodig het, maar as die Here uitgehelp en die omstandighede verbeter het, maar weer terugval op hulle ou weë.

3. Die mense wat weet wat die regte ding is om te doen, maar nie die guts het om die Here te vertrou nie. Mense wat die oortuiging gekry het, selfs die Here aangeneem het, maar nie bereid is om ‘n pad saam met Hom te stap nie. Hierdie mense het egter nie nodig om op hulself te vertrou dat hulle die valskerm sal oopmaak nie, want sien, hulle is reeds aan Jesus se harnas vasgegespe en HY waarborg veiligheid. (nie iets van “success-or-your-money-back” nie. GEWAARBORG en mag ek bysê BEWYS en BEPROEF) Hierdie ouens smag na die lekkerte van hierdie sprong, maar kom nie sovêr om dit te doen nie.

4. Dan is daar die mense wat reeds die eerste sprong agter die rug het. Hulle haal nog nie truuks uit nie, hulle spring bloot op die basiese manier, land soms harderig daaronder, maar kom terug keer op keer vir ‘n volgende sprong.

5. Laastens is daar die hierdie ouens wat al gewoond is aan spring. Man, hulle spring tog te lekker en land altyd sag as hulle elke keer die “basics” toepas wat hulle geleer het. ‘n Instrukteur staan altyd byderhand met raad en daad en wys hulle op potensiële foute sodat die ervaring nie ophou en die lekkerte nie verdwyn nie.

Beskryf een van hierdie kategorië jou dalk?

Hoe klink profiel 5 vir jou? Dis eintlik maklik, begin by die “basics”, gespe jou vas aan Jesus se harnas. Ek weet jy sal die sprong geniet…..en terugkom vir nog…..en nog…..en nog. (GEWAARBORG sonder die vrees van ‘n “refund”)

Johann

Scroll to Top