Daar het ‘n hewige storm losgebars en die mense van ‘n afgeleë dorpie was afgesny van die res van die wereld omrede daar ‘n rivier tussen die dorp en die res van die land was. Natuurlik was hierdie nie regtig iets nuut vir die inwoners van die dorpie nie en was hulle eintlik redelik al gewoond aan die storms en dan die gepaardgaande ongerief om afgesny te wees van die buitewêreld. Soos wat seker maar met elke dorp gebeur, kom daar van tyd tot tyd nuwe intrekkers aan. Juis op hierdie stadium was daar nuwe intrekkers en was hierdie gebeure nogal redelik vreemd aangesien hulle nie daaraan gewoond was nie. In ‘n redelike staat van paniek het hulle gedink dat die waters wat rondom hulle gewoed het, hulle sou verswelg. Selfs die gerustelling van die inwoners van die dorp het nie regtig hulle angs verlig nie. Natuurlik het hulle dan die daaropvolgende paar dae nogal ‘n taai tydjie beleef.
Vir die mense op die dorp was dit ook nodig om van tyd tot tyd hierdie rivier oor te steek om voorrade en ander goedere aan te vul. In hierdie tye sou hulle, nie soos gewoonlik met ‘n voertuig nie, maar met ‘n bootjie, die rivier oorsteek. Vir die gevestigde inwoners was hierdie nogal ‘n opwindende rit aangesien die stormagtige waters nogal die bootjie redelik kon laat ronddobber. Die stuurman van hierdie boot was egter uiters ervare en kon hy die boot perfek stuur tussen al die klippe, rotse en versnellings deur. Vir die nuwe inwoners wat nie al ‘n paar ritte meegemaak het nie, was dit ‘n nagmerrie totdat hulle hulself uit ervaring kon oortuig dat die rit veilig was. ‘n Paar seisoene en storms later was hulle heel gemaklik omrede hulle die ervaring meervoudig al beleef het en vertroue in die stuurman gehad het.
Vir ons as Christene is dit ook nodig dat ons vertroue bou uit ervaring. As ons gesien het wat Jesus kan doen is dit met tyd makliker om die Here te vertrou. As ek die vraag sou vra; “Glo jy dat die Here enige iets kan doen?” Hoe sou jy antwoord?
Volgens die Bybel het God die volk Israel met hulle 40 jarige rondswerwery in die woestyn elke dag van kos en water voorsien (hulle was maar net sowat 6 miljoen!) In rye van 6 sou die voorpunt in Kroonstad wees en die agterkant in Bloemfontein 200 km vêr. Vir Josua het Hy die son laat stilstaan sodat hy kon klaarmaak met ‘n lekker fight. Die Here het ook ‘n hele oormag een koel somersaand onder mekaar laat baklei en hulle hulself uitgewis het. Dit terwyl die Israeliete van ‘n afstand dit uitgecheck het. Jesus het dooies opgewek, siekes gesond gemaak en nog ‘n string ander wonderwerke. Bewyse, bewyse, bewyse…
Maar as ek Jesus moet vertrou met dinge rondom my of met my lewe dan lyk dit vir my is dit ‘n ander storie…
Ek wil jou regtig bemoedig. Het jy nodig om Hom met iets te vertrou? Begin dan net êrens. Gee Hom die geleentheid sodat Hy jou kan wys waartoe Hy in staat is. As jy eers ervaar het hoedat Jesus ‘n probleem kan oplos sal dit elke slag makliker wees om Hom met groter goed te vertrou.
As jy Hom kan vertrou, dan sal jy in Sy rus ingaan, dan sal jy vrede ervaar waarvan die Bybel praat (Fil 4:7 – En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus) Jesus het nog nooit aangedui dat ons wêreld (jou wêreld) sonder probleme gaan wees nie, Hy het net wel verskeie kere bevestig dat Hy in TOTALE BEHEER WIL WEES………………..Soek jy hierdie vrede?
Kyk ‘n bietjie daar in jou binneste, krap so ‘n bietjie ‘n paar goedjies oop wat jou lewe versuur, identifiseer wat hou jou weg van vrede af, en bely aan die Here;
“Te lank het ek op my kragte staatgemaak Here, te lank het ek my eie draaie geloop, my eie paadjies oopgekap. Ek is moeg van hierdie onstuimigheid in my binneste, ek is moeg van val en opstaan, ek het U nodig, nie as Backup as my planne nie werk nie Here, maar as die Een wat my die Lewe kan gee. Help my dat ek kan lewe. Vergewe my vir my ongeregtighede, ek nooi U (opnuut) in my lewe in. Kom vervang hierdie donkerte met U lig en laat my lewe! Laat ek U wonderwerke in my lewe ervaar, laat my ervaar hoe hierdie vrees en probleme skietgee en ek my kop optel met nuwe moed en krag en in oorwinning begin leef.”
Johann