Die West Point militêre akademie het twee maal geweier om Generaal MacArthur toelating te gee. Die derde keer is hy egter toegelaat en sy naam is op die ou-end in die geskiedenisboeke opgeskryf. Die San Francisco Examiner het ‘n brief aan Rudyard Kipling geskryf wat gelui het: “Jammer mnr. Kipling, maar jy weet net glad nie hoe om die Engelse taal te gebruik nie.” Nadat hy sy lewe lank keer op keer verloor het, het Winston Churchill op 65-jarige ouderdom een van Brittanje se grootste Eersteministers geword.
Enrico Caruso se musiekonderwyser het vir hom gesê dat hy “nie ‘n stem het nie en glad nie kan sing nie.” Einstein se skoolonderwysers het hom beskryf as “verstandelik traag, onsosiaal en verlore in sy dwase drome.” Teen die tyd dat hy 46 jaar oud was, was Beethoven stokdoof, maar tog het hy vyf van sy grooste simfonieë geskryf sonder dat hy ‘n noot kon hoor.
Die lewe gaan oor oorwinning! Jy klim een berg uit en voordat jy weet staan jy voor die volgende, groter een. Onthou jy hoe Petrus vir Jesus in ‘n oomblik van swakheid verloën het (Matt. 26:34-75) en Jona wat weggehardloop het van die roeping wat God hom gegee het, omdat hy bang was (Jona 1:3)? In elke storie van oorwinning is daar verloorhoofstukke opgeteken. Deur God se genade kan jy dit oorkom! Dit is hoekom die Bybel sê: “Hy wat in julle is, (is) groter as die duiwel, wat in die wêreld is,” Hudson Taylor het gesê: “Baie Christene meet die moeilikheidsgraad van dit wat hulle aanpak aan die hand van hulle eie bekwaamheid. Gevolglik pak hulle min aan en is dit altyd ‘n mislukking. Die werklike reuse was almal swak mense wat groot goed vir die Here gedoen het omdat hulle op sy krag en teenwoordigheid staatgemaak het.”
Eenvoudig gestel: Moenie jou bekommer oor mislukkings nie, maar bekommer jou oor wat jy vir God gaan sê indien jy nie eers probeer het nie!
© Kopiereg Radiokansel 2007 (www.radiokansel.co.za)