Hippies het almal blommetjies en VW Beetles vir vervoer, bergklimmers het berge en toue, Vlieëniers het almal vliegtuie, Terroriste bomme en wapens (waarnatoe ek hiermee gaan weet ek nog nie). Tuindienste het almal tuine. ‘n Motor verkoopsman, motors. ‘n Visserman ‘n vistreiler of visstok.
Elkeen word uitgeken aan sy omgewing. Elkeen het iets wat hom of haar koppel en onderskeibaar maak in sy omgewing. Om identifiseerbaar te wees met jou omgewing is nie verkeerd nie.
Die probleem kom in wanneer mense verkleurmannetjies is. Hulle verander soos hulle omgewing rondom hulle verander. By die werk is hulle attensies onwelkom, vanmiddag na werk kuier hulle saam met ongure elemente. As hulle vanaand by die huis kom is hulle prim en proper. Saterdagoggend op die sportveld is hulle die katjie van die baan. Sondag is hulle heilig. Maandag by die werk…
Ek dink my voorbeeld is dalk wyd versprei, ek probeer maar net n prentjie skets. Waarskynlik was ons almal al op een of ander stadium maar verkleurmannetjies. Ek was ongelukkig ook al ‘n so ‘n goggatjie. My omgewing het my ingesluk of sal ek eerder sê ek het die omgewing se camouflage aangeneem. Weet jy watter woorde slaan vas? Die eerste keer toe ek Jesus se heiligheid verruil het vir die plesiere van die wêreld. “Ek het nou nie gedink jy is een wat…” kom die woorde aangerol terwyl ek in die broederskap verwelkom word. En die verkleurmannetjie neem die omgewing aan en die mense slaak ‘n sug van verligting want nou kan hulle maar uithaak en laat waai want; Johnny-Boy is nou een van ons…
As ek vandag daaraan terugdink besef ek, ek was eintlik met respek dopgehou. Hier was nie iemand wat n fanatiese religious pyn in geselskap was nie, maar wel iemand wat bloot lief was vir Jesus en wat hierdie liefde vir Jesus opsy gestoot het om n verkleurmannetjie te word. Hierdie was baie jare gelede, en vandag is ek skaam want miskien sal iemand wat my jare laas gesien het, my vandag herken en sê; “Daars Johnny-Boy! – Hoezit my ou pêl?”
Snaaks genoeg, ons almal in daai groepie was op daardie tydstip Christene. Watter teleurstelling moes ek nie heelwaarskynlik gewees het vir jong Christene (wat daar wel was) wat my juis dalk dopgehou het nie? Dalk desperaat vasgehou het aan die beeld wat ek na buite gedra het om self geestelik te oorleef nie.
Klink hierdie dalk vêrgesog, uniek en uitsonderlik?
Wees maar net versigtig waar jy vandag trap, verkleurmannetjies is volop en boonop stadig.
Ek wil afsluit om jou te bemoedig met een laaste gedagte. Ek en jou optrede vandag kan beteken dat iemand of ‘n keuse vir of teen Jesus kan maak of selfs n broodnodige geestelike deurbraak kan beleef.
Johann