Jou oes is gewaarborg

cormfield01

Twee dae van een week was ek in Bothaville. Dit was nogal baie uitputtend omrede ek binne hierdie bestek al my werk moes voltooi. Vroegoggend was ek al oppad om eers sowat 6 nm weer terug te wees in Bloemfontein. Waarvoor ek genoeg tyd gehad het was om na die lande te kyk so in die ryery. Waar mielies eens was staan die lande nou braak met bossies en die laaste oorskot van mielieplante. Aan die anderkant van die pad staan die koring welig in afwagting. Koringkomberse wat aangerol kom in die wind.

Om vandag enige iets te plant is ‘n groot dobbel met geen waarborg nie. Fyn wetenskaplike metodes word gebruik. Tyds-berekening is uiters belangrik. Jy saai egter en hoop vir die beste. Jy het geen waarborg dat jy ‘n goeie oes sal afhaal nie. .

Anders as die wêreldse omgewing van saai en hoop bestaan daar geestelike wette wat onveranderd is. Wat jy in hierdie lande saai kom op, gewaarborg. Daar is net een verskil, jy weet gewoonlik nie wanneer jy besig is om te saai nie. Jy is ook nie altyd op die lande as die oes afkom nie. Die opbrengs word direk in jou bankrekening inbetaal.

Hoe jy die lewe benader en ander hanteer is waarvan ek praat. Wil jy vrede in jou lewe hê saai vrede. As jy maksimum uit jou huwelik wil haal, saai op jou lappie grond. As jy voorspoed wil beleef, saai van jou voorspoed in ander mense se lewens. (Ek praat nie van tiendes nie of beskou voorspoed nie net in geldwaarde nie)

Interressant genoeg is hierdie nie ‘n ruil transaksie is nie. Vir elke 10 saadjies in die grond kom nie tien plantjies op nie. Vir elke 1 saadjie kry jy waarskynlik 10 plantjies terug. Dis verder ook nie ‘n saak dat jy gedwing word om te saai nie. Dis bloot jou lewens-uitkyk en hantering wat hier ter sprake is en sovêr jy loop, sovêr saai jy.

Die beste manier om te verseker dat jy uitstekende oeste sal beleef is om Jesus se persoonlikheid aan te neem, deur Sy oë na die wêreld kyk en met Sy liefde elke dag te handel.

Johann de Jager

Scroll to Top