slow-pc

Kyk!, as die een of ander slim advertensie nou weer vir my wil sê my rekenaar is stadig…

Hulle lê en wag vir my om elke draai. Ek kan nêrens heen “surf” op die internet sonder om heeltyd herhinner te word: “Your PC is slow…”

Behoede jou as jy begin wonder en jouself later laat glo hier’s probleme, want as jy eers op hulle bladsy is, gaan die irritasie van daardie advertensie op die webblad niks in teenstelling wees met wat voorlê nie. Om weg te kom sal wees soos om krieket te probeer speel met ‘n tafeltennis balletjie. Hulle gaan alles in hulle vermoë doen om jou te kry om die program gratis af te laai. Hulle gaan tientalle getuienisse opdis en syfers soos dobbelstene rondgooi van hoe goed die sagteware kwansuis is, en jy gaan verseker in die versoeking kom om dit dalk net te probeer – dis immers gratis.

Laai jy dit af en hardloop jy die program, word tientalle probleme vir jou uitgewys en beklemtoon met rooi pyltjies en groot uitroeptekens. (natuurlik ook in rooi) As hulle nog ‘n motorwerktuigkundige se massiewe-foutvind-fluit kon naboots, het hulle dit seker ook gedoen.

Moenie eers probeer wegnavigeer van die bladsy nie, hulle stop jou so vinnig met ‘n “popup” waarskuwing en skuldgevoel dat jy soos ‘n stout hond met sy stert tussen die bene omdraai en weer onder die tafel gaan lê.

Totdat jy waag om die “Fix my PC” knoppie druk. Dan begin die sports. Van die 825 ernstige foute, maak hulle ‘n ronde 15 reg. Hulle soek eers jou geld. Hulle behandel jou soos ‘n kleuter op een van hierdie meganiese perdjies waar jy R5 moet betaal vir 3 minute. Wanneer die tyd verstreke is, vrek daardie perdjie net daar op die plek, met Boetietjie se geskokte gesigsuitdrukking wat binne 5 sekondes plekmaak vir ‘n tantrum. (Al verskil aan jou kant is dat jy vir 60 sekondes lank in doodse stilte staar na die rekenaar skerm se flitsende rooi pyltjies terwyl jy wonder wat jy volgende moet doen.)

We accept all major credit cards and Paypal bied hulle die oplossing. Teen hierdie tyd het jy jouself al wysgemaak jou rekenaar is niks beter as ‘n begaafde parafienblik met 3x AAA batterye nie. En jy word een van hulle duisende gelukkig kliente met ‘n PC wat tot 300 keer vinniger as tevore is…

Eintlik het my rekenaar heel lekker gewerk voor ‘n stupid advertensie my wysgemaak het; “Your PC is slow”

“Slow” se voet man!

Johann de Jager (www.ministriesworldwide.net)

Scroll to Top