Berei reg voor en volhard

NDP1108

Die doel van basiese opleiding in ‘n weermag is nie uitsluitlik om jou net die basiese vaardigheid te gee van wapenhantering, skiet–, veldkuns en soortgelyke goed nie, maar om ‘n groot doel, wat enige troepie seker nooit sal en wil verstaan nie, te bereik. Jy word geleer om bevele te gehoorsaam sonder om te dink. Hierdie element vir enige ‘n soldaat is broodnodig om te kan oorleef.

Terwyl jy in jou basis was kon jy redelik ontspan, maar wanneer jy moes uitbeweeg was jou voorbereiding en nagaan van jou toerusting iets wat jy nooit durf nalaat nie. Jy kon nie 7 dae vêr in ‘n patrollie vir jou bevelvoerder vra of jy gou iets kan gaan haal nie, of dalk besluit om ‘n lekker braai te hou vir die ouens nie. Jy moes gefokus gebly het om lewendig daaruit te kom—die hele tyd wat jy weg van jou basis af was.

Ons geestelike lewens is presies dieselfde, met een verskil; dit vind net plaas in die geestes dimensie. Jammerlik weet so baie Christene nie die impak wat dit in ons eie lewens het nie. Al wat jy waarneem is dat dit soms vrek sleg is om ‘n Christen te wees. Jy kry net swaar, die Here “hoor” jou nie en dalk dink jy soms ook dat Hy nie regtig omgee nie. Aan die ander kant besluit jy een oggend, “OK ek gaan die Here vertrou vir so en so”  Net om 2 ure later platgeslaan te wees en met vrees en moedeloosheid gevul te wees. (Ek ken daai gevoel baie goed)

In een van gister se artikels moes twee broers net nog 3 voet dieper gaan om by die goud uit te kom, maar hulle te vroeg gestop. Ek wil jou vandag bemoedig om, as jy nie Efesiërs 6:10-18 verstaan nie, die Here te vra om daardie waarheid vir jou (dalk opnuut) oop te breek.

Daar is ‘n groot verskil om gelowig (godsdienstig) te wees en om ‘n navolger van Jesus te wees. Dis twee verskillende wêrelde, elk met sy eie gevolge.

Johann

Scroll to Top