manicure1210

Ek wonder hoeveel mense en miskien moet ek hier dalk net die mans inbring, het al op ‘n stadium in sy lewe gewonder, waar pas hy in. ‘n Jaar of wat gelede het ek een aand myself die vraag afvra.

Onbewustelik het Jonè (my jongste dogter) daardie aand besluit; vanaand is die aand dat sy haar pa gaan bederf met ‘n aantal prosedures wat mens, nou wel, nie regtig normaalweg sal konnekteer aan ‘n man nie. Ek het dit ‘n bietjie laat, eers toe haar ousus verby kom en redelik bekommerd vra, “Pa weet jy wat is Jonè besig om te doen?”, agtergekom dat alles nie heeltemal in orde blyk te wees nie. Ek probeer antwoord met iets van, “Ek dink sy versorg my voete”, “Nee Dad! sy is besig om jou ‘n ‘manicure’ te gee!”

“O, en wat is dit?” laat ek redelik so normaal as moontlik van my hoor, sonder om voor te gee dat ek in paniek verval.

“Sy is besig om jou toonnaels te cutex”

“Deurskynend of gekleur?

“Pa jy verstaan nie, die boonste gedeelte van die naels word wit gemaak, die res pienkerig”

OK. Daar sit ek en let vir die eerste keer op na wat aangevang word. Barbie se moses, my naels is baie mooier as wat sy ooit vir Ken mee kon verras het.

My gedagtes verskuif onwillekeurig na die gym. Nou kan ek my al voorstel hoe lyk ek met my “gepainte” toonnaels. Wel die gym is nie regtig die probleem nie, maar die sauna daarna, waar ons, wel nou nie regtig met sweetpakbroeke en tekkies ingaan nie. Nou kan ek myself voorstel, ek met my toonnaels wat lyk soos opkomende volmane op ‘n goeie somersaand, geskilder met “tippex”, met ‘n tikseltjie pienkglans daaroor, kompleet soos ‘n romantiese aand met die maan se strale wat oor die water weerkaats. Voorts is my bors- en rughare nie geskeer nie, maar my voetjies is pienk en sag!!! Stel jou dit voor……

Nou, die ander mans is tipiese mans, praat oor rugby, besigheidsgoeters, motors, “spanners” en wat nog ook, “en jy Johann, het jy die hele naweek in die salon deurgebring, jou hare “geperm”, gesigontrimpeling ondergaan, plooie weggetoor, ‘n lekker tert gebak. Dalk gebrei of gehekel????”

Later kom Zelka ingestap om nag te sê, “Wys my gou weer jou voete” laat sy nie op haar wag nie en stap giggelend hier uit, nogal ook gedink aan die gym episode wat voorlê.

Maar Jonè het vir ‘n salige uur, my voete en hande vertroetel, roompies ingevryf, geknip, geskuur en masseer, en seker ‘n halfuur na haar gewone slaaptyd eers naggesê.

Ek kon nie anders as om te dink hoe trots sy moes wees op haarself nie. Hoe goed sy moes voel met die wete dat sy haar pa bederf het nie. Sy sou redelik teleurgesteld gewees het as sy moes uitvind dat ek, terwille van ‘n moontlike “naamruk”, sou besluit het om haar werk tot niet te maak.

Dalk is daar vandag net iemand wat ook iets vir jou gaan doen diep uit sy/haar hart, wat jy dalk nie in dieselfde lig gaan sien nie. Wees bedag dat jy nie iemand seer maak met ‘n ondeurdagte opmerking of antwoord nie. Paulus waarsku ons watter vernietigende uitwerking ons woorde het op mense, hy praat van ‘n vuurhoutjie wat ‘n groot brand kan aansteek.

Ek wil die teenoorgestelde sê. Wees jy vandag ‘n vuurhoutjie en steek ‘n massiewe brand aan met positiewe opmerkings en opbouende kommentaar.

Johann
Scroll to Top