Een van die min fiemies wat ek het is om warm koeldrank te drink. Dis ‘n alewige herhinnering aan wie ookal vir my koeldrank aanbied of indien ons bestel : “Gooi net ys is as die koeldrank warm is asb.” Kom die koeldrank by ons is die een en enigste blokkie ys al reeds so klein soos ‘n albaster en ja, met die koeldrank wat nog (steeds) warm is. Dan herhaal die proses hom en ek bestel ‘n aparte glas met ys.
Warm koeldrank met gas kan net nie lekker wees nie. Veral as mens dors is en jy wil die blikkie koeldrank aanpak met angstigheid om jou dors te les kom jy soos ‘n stoomtrein tot stilstand geruk wanneer daardie gas na die eerste paar slukke rebelleer en stroomop hulle pad terugvind na die bron van oorsprong. Agterna sit jy daar met trane in jou oë en kieste wat opgeblaas was. Soms ook met ‘n rooi gesig (van skaamte) as die borreltjies jou onkant betrap het en luidkeels hulle vryheid aankondig (en die hele restaurant raak vir ‘n oomblik stil…) Ai-jai-jai!
Weet jy die Heilige Gees is ook soos ‘n blokkies ys in ons geestelike lewens. Die aantal ysblokkies wat ek byvoeg bepaal hoe koud my koeldrank gaan wees. Maar ysblokkies smelt en jy moet dit gedurig byvoeg. Lateraan word die koeldrank ook so verdun dat dit flou word en waterig begin proe. As jy aanhou-dend ysblokkies gaan byvoeg sal daar naderhand geen koel-drank meer oor wees nie, net verfrissende koue water.
As daardie ysblokkie begin smelt en koeldrank word warm word jou hart verhard, raak ‘n mens negatief, vrees kom sit vlak langs jou en kom pak al sy bagasie af, jy maak jou eie besluite sonder om die Here daarin te ken, jou afhanklikheid van God neem af. (hoeveel nog meer?) Die oorsake daarvan is uiteen-lopend. Dit gaan so goed finansieël met jou dat jy dink jy het God nie nodig nie, jy werk jouself oor ‘n mik en brand uit, jy verslap jou gebedslewe vir ‘n paar dae (wat later weke en maande word). Dalk word mens vasgevang in sonde waaroor jy aanvanklik baie sleg voel, maar soos die koeldrank warmer raak, neem die skuldgevoel ook af.
Die slegste hiervan is dat jy dit nie dadelik besef nie. Wanneer al hierdie goedjies jou eendag, wanneer jy teen die planke is, gelyktydig aangluur, besef jy eers hoe hard jy van die wa afgeval het.
Die terugkeer is nie altyd maklik en so eenvoudig nie. Dalk het jy nog hier langs die pad gesaai en die oes moet nog opkom, dalk moet jy so vêr op jou spore terugloop om reg te maak met mense. Dalk is jy so verlam deur jou omstandighede (of sonde) dat jy nie kan insien hoe groot en almagtig God is om jou hieruit te help nie.
Paulus bemoedig ons dat ons wakker moet wees, kennis moet neem wat rondom ons gebeur, altyd in voeling moet bly, alle gedagtes moet ontleed en onmiddelik daarmee moet handel as dit negatief is. Ons moet heeltyd ons geestelike lewens monitor. Gedurig vir die Here toelaat om ons te vernuwe. Permanent ons geestelike wapens moet dra (uitleef).
Waar begin ‘n mens? Erken, bely, ontvang vergifnis en laat toe dat die Here die pad na herstel begin, dag vir dag.
Wees geseënd!
Johann