Die “Basics”

steppingstones1010

Ek wonder of jy al die volgende grappie gehoor het;

‘n Pastoor, Predikant en ‘n Reverend besluit om saam te gaan visvang. Hulle roei die bootjie so ‘n entjie van die kant af en begin alte lekker visvang. Sowat ‘n uur en ‘n half later is die Reverend se aas op. Hy klim egter uit die boot en loop so sloes-sloes bo-op die water tot by die kant, kry nog aas en loop sloes-sloes terug, klim in die boot, sit nuwe aas aan en gaan voort met sy visvang.

‘n Verdere uur later staan die Predikant op, klim uit die boot en loop sloes-sloes op die water, kry nuwe aas op die kant en loop terug op die water, klim in die boot en gaan voort met sy visvang.

Die Pastoor op hierdie stadium van hierdie geveg is bleek om die kiewe, want sy aas is besig om op te raak! Die Reverend sien toe op ‘n stadium hierdie man is besig om bloed te sweet. Hy leun toe oor na die Predikant en fluister :”Sal ons hom vertel van die ‘stepping stones’ in die water?”, waarop die predikant vir hom terugantwoord; “Watter ‘stepping stones’?”

Drie verskillende mense, drie verskillende reaksies. Maar hulle aanbid een God.

Die Here sê vir ons in Sy Woord. “Beywer julle allereers vir die Koningkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy ook aan julle al hierdie dinge gee.” As jy die gedeelte vooraan lees sal jy sien dit gaan oor die sorge van die lewe. Wat beteken dit om God se Koningkryk en Sy wil te soek?

  • Hoekom kan ek nie vandag regtig oortuigend sê dat alles wat die mens vir God vra hy ontvang nie?
  • Hoekom word nie alle mense gesond as die Bybel sê dat as iemand siek is sal die Here hom genees as daar vir hom gebid word nie?

Hoekom is daar swaarmoedigheid by mense en swoeg dag tot dag as die Here sê Hy gee voorspoed as Hy dan vir die mossies sorg hoeveel te meer sal Hy vir ons sorg nie?

Die Here sê ons moenie worrie oor wat ons vandag gaan aantrek of wat ons gaan eet nie, Hy sal sorg?

Kort ons geloof, kort ons meer kerk toe gaan, meer bid, meer van ‘die’ en van ‘dat’? Of moet ons nie miskien teruggaan na die ‘basics’ toe nie. Het ons nie dalk te lank die Here gedien op ons turf nie, op ons voorwaardes en terme nie?

Of het die Woord van die Here sy krag verloor en is die Christelike geloof net een van die opsies wat ons het in die spirituele realm waarin ons deesdae beweeg. (Die moderne neiging?)

‘n Tyd terug was daar groot beswaar aangeteken toe die moontlikheid oorweeg was dat Pukke Christelike Hoër Onderwys uit hulle naam wou laat. Die hel het behoorlik in die media losgebars en beswaardes was volop. Dit het my laat dink watter impak die naam nou juis het behalwe tradisie. Is al die studente geesvervuld, hou nie partytjies, raak nie dronk nie, leef kuis, vloek nie en wy hulle lewe voltyds aan die Here?

Maak die naam “Christelike Hoër Onderwys” van my ‘n knap Christen?

Die geestelike realm word deesdae soos kies tussen produkte. “Ek hou van ‘n BMW oor hierdie eienskap”, “Man ek ry ‘n Volla, “As jy nie Japanees ry nie, jy weet dan het jy nie regtig die beste nie”

“Traai hierdie en bring terug as dit nie regtig vir jou werk nie, ruil dit om met daai een, jong is dit nou ‘n fantastiese produk! Dit haal al die plooie uit!”

“Probeer Joga, dit bring soveel rustigheid.” “Nee man Hirrie Krisna (of wat ook al) bring nou vir jou voorspoed.”

Moet ons nie miskien teruggaan na die basics toe sodat die Here weer die Nommer 1 kan word in ons lewens nie?

Ek dink so vinnig aan die volgende;

  • “My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis”

(Ons stel ons kinders bloot (en ons was as kinders self daaraan blootgestel) aan goed soos bv. Liewe Heksie (wat is ‘n heksie nou anders as ‘n gewone heks. Wat is ‘n heks se konnektasie nou anders as demonies? En jammerlik Harry Potter. Van die kindertjies word selfs aangetrek soos towenaars (die manlike vorm van ‘n heks). Die skrywer van Harry Potter sê juis dat Jesus ‘n “loser” is. Maar gou word ons vertel van ‘n fantasiewêreld. ‘n Sprokieswêreld waarin die kindertjies hulle kan uitleef. Allerhande werkwoorde word gebruik om die impak te versag van hierdie “bonatuurlike” aktiwiteite, en dit word afgemaak as “onskuldige” vermaak.

“Gaan sien ‘n spirituele medium, of nee man check net jou TV, hulle verskyn sommer deesdae daarop.” Of lees sommer ‘n bekende Afrikaanse tydskrif wat in die een asem ‘n artikel oor godsdiens in skole het en op die volgende bladsy jou sterrevoorspel verskaf. En hierdie is ‘n klein voorbeeld van wat aangaan. Gaan iets verkeerd in ons lewe dan is ons geneig om vinnig te sê: “Hoekom straf God my?”, “Hoekom moet ek so ly?” “Waar is hierdie God van liefde?”

Ek wil amper vra, maar watter god word dan nou gedien?

  • “As My volk oor wie My Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en My aangesig kom soek, en wegdraai van hulle sonde, sal Ek genadig wees, Ek sal vergewe en die hele land genees”
  • en dan “Beywer julle allereers vir die Koningkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy ook aan julle al hierdie dinge gee.”

Ek is van mening dat ons vandag krippel Christene is, maar ons dink ons is eintlik smart, dan doen ons ‘n paar fancy goedjies in die kerk en ons sê “WOW” maar die Gees werk? Volgende week haal ons nuwe truuks uit en “WOW” hier gaan ons weer. Ons het die Here geblik en geseël.

Wil jy die Here in aksie sien? Kom dan op die plek waar die Here werk (en seën), kom in lyn met Sy wil en soek Sy Koningkryk en ek waarborg jou, die Here se guns en almag sal oor jou uitgestort word, jy sal  wonderwerke aanskou en ervaar.

Johann de Jager

Scroll to Top