“Yes Pa, what’s the verdict?” Ek is nog nie eers behoorlik wakker toe ek gekonfronteer word met hierdie vraag nie.
“Ja OK. Ek gaan saam”. Glimlagte verskyn oral op almal se gesigte by die aanhoor van hierdie bevestiging.
Die laaste keer wat ek saam met die “kleintjies” Paint Ball gaan speel het, het ek maar bra sleg daarvan afgekom.
Onnosel wat ek was, laat ek vir Jonè toe om haar magasyn leeg te maak op my lyf. Die bedoeling was dat sy doer anderkant sou staan en ek mooi presies aan die oorkant. Ek sou dan ‘n bewegende teiken wees en sy sou darem iets te “skiete” kry (as sy my ooit sou raakskiet). Wat sy verkeerd verstaan het, dié weet ek nie, maar toe jaag sy my soos ‘n gans op ‘n erf rond en skiet my pimple en pers op seker nie minder as 2 meter nie!
Hierdie keer was dit “pay back time”. Een van die speletjies is in ‘n bosserige omgewing. Almal bekruip mekaar. Aanvanklik beweeg niemand nie, doodse stilte heers. Voeltjies tjirp, die ander goggas doen wat hulle moet doen. Ek pas alle weermag-opleiding toe. Skietvakgebiede. Afstandskatting. Nooduitgangroetes. Kry ons ooit kos vandag?
Ek besef, “Vandag lê ons in ons gate tot lank na die rugby”. Dis waar ek toe besluit om oor te gaan tot die aanval. Ek staan op en begin loop. Net soos in die flieks, is my “geweer” op my heup. Ek hou dit vas met een hand. Ek lyk soos RAMBO met ‘n masker.
Die “oorlog” het begin! Ek kom by die huis en my lyf is hierdie keer nie vol blou kolle nie…
Geestelike oorloë vind ook daagliks plaas. Soms weet jy dalk nie eers daarvan nie. Soms is jy in die middel van hierdie oorlog. Dalk is dit goed dat ons dit nie altyd kan sien nie. Belangrik dat jy wel daarvan weet . Daar kom tye wat ek baie keer inmekaar trek as probleme soos golwe aangerol kom. In plaas dat ek my situasie geestelik beoordeel, gee ek te maklik oor en gaan sit spreekwoordelik op ‘n hopie. Ons moet oorgaan tot die aanval, ons grond behou. Ons moet die beloftes in die Woord vat en ons eie maak en uitleef. Die Woord sê as ons die satan weerstaan, sal hy van ons wegvlug. Gewaarborg.
Kom ons kry vandag iets op die “scoreboard” en vat dit saam na môre.
Johann de Jager