So bevind ek my mos toe een dag in ‘n gemors. Sleeping Beauty beplan nie sy motor se diens nie en bevind hom tussen Graaf Reinette en Middelburg met opgeblaasde kieste en ‘n fronsende dogter wat bestuur. My motorplan is heel streng. As daai liggie vir jou sê dis sulke tyd, dan hum-en-ha jy nie. Optimisties dog ek ek bel sommer gou vir ‘n afsprakie. Hulle kan help, maar op daardie tydstip sal ek in Kaapstad wees. Hoekom almal hulle motors wil diens as myne aan die beurt kom, weet ek ook nie. In elkgeval, ek besluit om uit te wyk na omliggende handelaars en so kry ek ‘n afspraak in Welkom (150km vêr). Die enigste probleem ek moet reeds daar wees om 7vm.
“Het ek jou gesê ek bel van Bloem af?” vra ek die mens aan die anderkant van die foon.
“Wil jy jou kar gediens hê?” sê-vra sy.
“Hoe laat sê jy moet ek daar wees?”
Ek het hulle teruggekry – ek het hulle ontvangsarea vir my as kantoor ingerig en die ander moes oor my klim om by die toonbank uit te kom. (Darem nou nie heeltemal so nie, maar dit klink ten minste snaaks nê?)
Laatmiddag vertrek ek en hier op ‘n stadium so tussen die mielielande deur trek die volgende bordjie my aandag “Dis mos nou vir jou mielies” Ek grinnik by myself oor hierdie uitlating wat wie-ookal-watse-tipe-mielies daar geplant het, maak. As dit is hoe droeë dor verbleikte mielies moet lyk : “Good luck to them!”
Nie lank daarna nie steek ‘n storm op soos dit net in die Vrystaat beleef kan word. Eers waai al die plase aan die linkerkant van die pad oor na die buurplase toe. (G’n wonder so baie plase is ook ingerig as gastehuise nie. Dis vir wanneer die bure oorwaai…)
Hoe verder ek ry hoe donkerder word dit. Nie lank daarna nie, begin dit reën, met swaar weerligblitse reg rondom my. Net so skielik soos dit begin reënt het, so skielik hou dit vir ‘n oomblik op en dan, asof ‘n gat in die donker wolke gebrand word, breek die son deur in die mooiste-mooi wat mens kan beskryf en die aarde daaronder word met ‘n helder glansstraal verlig. ‘n Verdere gaatjie brand oop in die donker wolk en vir ‘n paar sekondes voel ek die sonlig teen my gesig. En dis so asof God vir my daardeur wil sê : “Ek weet van jou!”
Ek sien weer die verbleikte mielies se bordjie en dink by myself : “Dis mos nou vir jou ‘n God”
Johann