Maak hulle dors.

doors2008

Watter onseker tyd moes dit nie vir die vroeë kerk in Korinte gewees het nie. Nie net moes hulle ‘n nuwe geestelike perspektief kry nie, maar hulle moes ook wegbreek uit die kultuur en die algemene leefwyse van daardie tyd.

G’n wonder dat hulle ‘n brief aan Paulus gestuur het met ‘n klomp vrae nie. Een van hierdie vrae was die eet van vleis wat aan afgode geoffer was.

Paulus se antwoord was, dat daar in elkgeval geen ander god behalwe een Here is nie en dat niks wat dan by jou mond ingaan onrein kan wees nie en dit wat jy eet jou ook nie nader aan God bring nie.

Hy waarsku teen een ding en dit is wat ek met jou wil deel. Te midde van die vryheid wat ons het, moet ons oppas dat ons nie iemand wat swakker in die geloof is aanleiding gee tot sonde nie. M.a.w iemand tot ‘n val bring nie.

Alhoewel Paulus se skrywe verwys na voedsel, kan ‘n mens hierdie deurtrek na ‘n verskeidenheid van ander voorbeelde. Radikale uitsprake, sieninge, roetines ens. So gepraat van roetines; jare gelede het ek ‘n gebedsmaat gehad wat 4 uur in die oggende stiltetyd gehou het en dan vir my wakker gebel het. Hey man, hierdie de Jagertjie was nog nooit ‘n oggend mens nie. Daardie tydperk was vir my ‘n straf gewees. Hoekom het ek dit gedoen? Want ek het gevoel dat as ek dit nie doen nie dan het ek geen commitment tot die Here nie. Die ander persoon het so geestelik volwasse gelyk en geklink en ek kon net nooit by sy standaarde uitkom nie. Wel hy was maar net iemand wat vanself 4 uur in die oggend wakker geword het, ek aan die anderkant het ‘n bom nodig gehad om my wakker te kry.

Die beste invloed wat jy vandag in iemand se lewe kan hê, is om mense dors te maak. Dors te maak na dit wat jy het; strome van Lewende water, Jesus Christus.

Beste van alles, jy hoef nie een woord te sê nie.

Johann

Scroll to Top