Die musiek in my oorfone is lankal reeds stil, al wat oorbly is my ore wat lekker warm gehou word deur hulle. Alles rondom my is stil, die nag trap reeds diep spore en ek sit ingedagte voor die rekenaarskerm toe Conrad besluit om uit te vind hoekom ek nog nie slaap nie. Die ding-dong klank in my ore (en op my nugter maag) laat my vir ‘n oomblik voel ek het die hemelse pad gemis en is oppad hel toe.
Eers is ek koud, toe kry ek warm gloede, toe klop my hart in my keel, toe klop my hart nie meer nie. Maar ek oorleef en vertel hom presies wat hy nie moes doen nie. Dis toe dat hy my vertel wat een aand met hom gebeur het.
Hy sê hy en ‘n kollega het jare gelede aan ‘n projek gewerk in Johannesburg en het elke naweek Bloemfontein toe gery. Die betrokke naweek kom hulle baie laat uit Johannesburg weg, en die voet is swaar op die petrol pedaal. Hy ry voor en sy maat agter (Goed, dis seker obvious nê?) Duskant Kroonstad is hy lankal al ingedagte en alhoewel alles rondom jou gebeur en jy waarneem, word alles eintlik outomaties gedoen. Nou ja so sit hy in outo-mode, luister na musiek toe iemand vir hom sê: “Hallo Conrad, ek is honger..”
Hy sê keer amper die motor om so skrik hy. Sovêr sy kennis strek ry niemand saam met hom nie. Hy wonder of iemand dalk in sy voertuig wegkruip?. Versigtig, met ‘n bonsende hart en ‘n keel wat kurkdroog is loer hy so oor sy skouer of hy iemand dalk agter in die voertuig sien sit. Toe hy omkyk, skrik hy hom eers in ‘n mik want iemand sit inderdaad agter in die voertuig – maar sy kop is missing!
Nou flits die volgende deur sy brein;
Die persoon ken sy naam!
Hy’s honger, wil hy my eet?
Toe praat dieselfde stem verder en vra of hulle nie dalk maar kan stop in Kroonstad om iets te ete te kry nie. Die stem begin bekend klink en stadig sak die werklikheid in. Dis Bertus in die agterste voertuig wat hom gebel het, sy selfoon se oorfone was op en gestel om outomaties oproepe te antwoord. Hy het net nie gehoor die foon lui eenkeer voor dit geantwoord het nie, die musiek was te hard.
Maar wat van die persoon agter in die voertuig? Dit was al die tyd sy pak klere wat hy opgehang het…
Op daardie oomblik was die onwerklikheid ‘n werklikheid vir Conrad waar hy vir ‘n oomblik verstrik geraak het in wat hy waargeneem het. Dit was egter nie die realiteit nie. Dit gebeur in ons geestelike lewens ook dat ons gepootjie word deur die satan. Dat ons vir ‘n oomblik nie kan onderskei wat realiteit is nie. Dis hoekom dit belangrik is dat ons elke gedagte gevange moet neem en onderwerp aan die realiteit van die Skrif. Elke gedagte moet beoordeel of dit in lyn is met God se Woord. Dis amper soos om in digte mis ‘n bekende pad te ry. Jy is nie bang nie, want jy ken die pad.
Onthou dan, al lyk dit donker rondom jou, weet net dat Vader wat jou dra, weet waarheen Hy loop.
So, sal ons stop vir ietsie om te eet?
Johann