Jare gelede, het ons een keer gaan uitspan by die kus. Vir ‘n binnelander was varswater visvang nog nooit regtig iets wat my belangstelling kon behou nie. Ek dink dit het te make met twee goed. Eerstens is dit vir my sinneloos om visstokke op standers te sit en die heeldag voor jou uit te staar, en tweedens, die aas wat gebruik word veroorsaak ook ‘n probleem, dit hou nie. Ek eet dit gewoonlik self op.
Hengel by die see is vir my opwindend. Daar is heeltyd aksie. Al is dit nie die visse wat byt nie, is daar altyd beweging op die stok, selfs al word dit net veroorsaak deur strome. Ek kan myself ongelukkig nie klassifiseer as ‘n gesoute “visterman” nie, ek kan selfs nie eers spog oor daai grootte wat weggekom het nie. Daar was eenvoudig nog net nie so een nie. En met wegkom bedoel ek eintlik daar het nog nie eers so een aan my aasies kom proe nie. My visgerei aan die anderkant is ook nog dieselfde wat ek as 11-jarige seuntjie gebruik het in Swakopmund.
Die een oggend is ek oorgehaal om vroeg vroeg stokke te gaan natmaak. Die spesifieke oggend was ek egter nie alleen op die spot wat ek myself toegeken het nie, maar twee ander ouens was ook reeds doenig daar. Nou ja soos met die storie van die pienk toonnaels in die sauna, was daar nie regtig ‘n ander keuse as om maar saam te vang nie. Hierdie keer het ek egter Zelda se oupa se visstok (bamboes tipe), krom en vol skete, met ‘n miniatuur katrol (altans dit het so gevoel) gereed gemaak om die aas te water te laat. Nou ja, die manlike tostesteroon het ‘n uitwerking waar jy nie regtig ‘n seggenskap het oor ego nie. My ego het bepaal dat as ek hierdie hoek en sinker nie vêr gaan ingooi nie, is my “image geskend” (Nie dat mans ‘n probleem het met image nie nê?)
Die ander twee was toe nog besig om gereed te maak, maar omrede my goed redelik primitief was, was ek natuurlik eerste slaggereed. Ek maak maar ook of ek al ‘n gesoute visterman is en jy presies weet waar jy jou aas in die water wil hê en hoekom. In my binneste het daar egter ‘n ander storie afgespeel. Ek het net geweet, vergeet van die vis, gooi net die aas en sinker so vêr as moontlik in, red net jou naam… My ingooi was toe nie te sleg nie maar nou ook nie juis soveel van ‘n treffer nie. Hopelik genoeg om my beeld te red, maar my ego het my herhinner dat die twee maters met hul fancy visstokke, met katrolle so groot soos sokkerballe, vir my soos ‘n kaboutertjie gaan laat lyk.
Wat ek egter nie besef het nie, was dat hierdie maatjies, in hulle grêndgeit, nie hierdie visstokke kon hanteer nie, nog te sê dit kon regkry om die sinker verder as 5 m voor hulle te gooi. Sien, dit was ook hulle eerste keer….. Ek het lekker in my mou gelag, eers vir myselfse testosteroon en toe vir hulle onbeholpenheid.
Voel dit soms vir jou of jy as Christen sovêr te kort skiet as jy na ander Christene kyk? Dis seker maar deel van ons natuur. Ons is heeltyd besig om, dalk soms onbewustelik, onsself te vergelyk en te meet met ander mense, nie net in die sekulêre lewe nie, maar ook geestelik. Ons voel minderwaardig as ons kyk na ander ouens. Hulle lyk so geesvervuld, so geestelik volwasse, so vol geloof, so suksesvol…
Jy voel dalk dat die Here jou nooit kan gebruik nie, jy voel of jy net nooit by daardie hoogsheilige vlak van ander Christene ooit sal by kan uitkom nie. Laat ek jou vandag sê dat jy geensins na ander mense ooit hoef te kyk om jouself te peil nie. In Jesus se teenwoordigheid het ek nie nodig om myself te bewys nie. Jesus kyk net na een ding, en dis jou hart se motiewe. Daar is nie ‘n telkaart in die hemel waarmee ons prestasies en heiligheid gemeet word nie, Jesus gee veel meer aandag aan iemand wat in afhanklikheid na Hom draai en sê: “Here ek het U nodig in my lewe”
Raak rustig en geniet die lewe ! Jy is duur gekoop.
Johann