Skeermes

boy_shaving

Ek was ‘n klein tjokkertjie, en ons het destyds nog in Windhoek gebly. My pa moes Kaap toe vir ‘n onbepaalde tyd. Ek was ook nog die enigste kind in die huis (vanweë my “laatlamskap”).

“Janneman, jy is nou die man in die huis” het my pa gesê. Hierdie woorde wat my nie net laat goed voel het nie, maar tot aksie oor laat gaan. Ek het eerstens my pa se bed bestyg en dit ingerig tot my smaak en gemak.

Voorts het ek ‘n plan van aksie uitgewerk en laat inoefen wat ons in die geval van ‘n aanval deur (wat ons toe beskou het as) terroriste (SWAPO het destyds net net begin met hulle offensief). My ma kon maar net haar kop geskud het want ek was op ‘n “mission” en ‘n atoombom sou my waarskynlik eerder kwaad gemaak het in plaas van tot ander insigte gebring het.

Elke oggend het ek vroeg opgestaan, badkamer toe gegaan en geskeer. Ek moes op ‘n stoeltjie staan om myself in die spieël te kan sien. My ma het dit redelik amusant gevind, tot sy een oggend met ‘n skok besef het ek speel nie met die skeermes nie, ek skeer my superglad!.

My “manskap” en outoriteit was nie meer daarna dieselfde nie. Ek was gestroop van my rang en senioriteit, ek was nou weer Tolla (my ma se bynaam vir my), nie meer “Meneer de Jager” nie. My posissie in die skool was in gedrang, want ek was nie meer op dieselfde vlak as die onnies wat geskeer het nie, ek was nou weer maar net ‘n “oulike” kaalvoet seuntjie wat sy huiswerk moet doen of pakslae kry.

Een aand nou onlangs het ek weer ‘n angsaanval gehad oor ons toekoms. Nie groot nie, maar tog genoeg om ‘n naarkol op die maag te ervaar.

Ek moes oorgaan tot ‘n geestelike offensief. Dit was beslis nie die Here wat dit gebring het nie. Ek was moeg en ‘n bietjie afgesonder van die Here deur die dag wat in ruil my skilde van geloof beinvloed het. Ek het ‘n realiteits “check” gedoen. Het ek rede om so te voel? Het die Here nie vir ons beloftes gegee wat vasstaan in Sy woord nie? Is Hy nie getrou aan Sy eie beloftes nie?

In my stiltetyd die volgende oggend dink ek aan twyfel wat soos ‘n man se baard groei. Jy moet hom maar elke dag skeer. En jy moet maar weet dit sal weer groei.

Laat Jesus dan vandag jou skeermes wees. Jy kan verseker weet dat Hy jou glad sal skeer, elke dag.

Johann

Scroll to Top