Jare gelede was ek deur my regiment aangewys om saam met ‘n klompie ouens ons regiment te verteenwoordig by die 75 bestaansherdenking van die Weermag in die Kaap.
Die aand voor die tyd sit ons Samajoor in ons tent en hy is besig om sy skoene te “bone”. Die wat nie weet wat hierdie proses behels nie; dit is ure en ure se poleer van jou stewels met politoer. Gewoonlik skop jy af om politoer met ‘n strykyster op die punte van jou stewels te smelt en so plat as moontlik te stryk. Hierna volg nie een of twee dae se politoer met watte en water nie, maar nagte op nagte se “spit en polish”.
Nie asof ons in daai dae niks gehad het om te doen nie en teen die tyd wat jy by jou “bungalow” uitgekom het, was jy voos van die dag se aktiwiteite, en seer as die korporaal sleg geslaap het die vorige aand. Gewoonlik het die ouens soms tot 2 uur in die oggend voorberei aan hulle inspeksie en natuurlik was die “bone” van stewels deel daarvan.
My plaasvervanger vir “boots bone” was heel eenvoudig. Dit was koffie. Een teelepel koffie met ‘n paar druppels water aangesmeer op jou boots se punte het korporaals en sersante dag in en dag uit geflous.
So oortuig ek mos toe vir Samajoor en die luitenante om hierdie malligheid van hulle te laat vaar. Hulle maak my moeg en ek raak naar om net na hulle te kyk. Ons is laaankal nie meer troepe nie. “Make the swop”. Swop to coffee”. Ek “stick” hulle toe sommer vir die lepeltjie koffie, hulle moes net hulle eie water kry…
Die volgende oggend marsjeer daar darem vir jou ‘n klomp windmakerige ouens met hulle “kits-boned-boots” in Adderleystraat af. Ons halt nogal ewe breëbors reg voor die groot kanonne en ons is in posissie nr 1 van belangrikheid.
Terwyl ons parade staan, (jy weet, steeds in Adderleystraat voor die “senior bestuur” van die weermag…) sak daar mos toe ‘n reëntjie uit…
My oog vang die teerpad skuins voor my. Strome koffie vloei vrylik in repe oor die teerpad.
Massa histerie lê gevaarlik vlak en nie een van ons kan behoorlik ons lag onderdruk voor die groot kanonne nie.
Weet jy die Bybel praat ook van so iets. Nie “gippo boots” nie, maar waarop ons geestelik bou, of eerder dat ons werke eendag in die openbaar sal kom om geoordeel te word. In Lukas 6:49 lees ons :”Maar wie dit hoor [die woorde van Jesus] en dit nie doen nie, is soos ‘n man wat ‘n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.
Hierdie het nie net ‘n toekomswaarde nie, dit het ‘n uitwerking in die teenswoordige tyd. Nou, vandag. Daar is geen manier dat jy eendag jouself sal vernietig as jy nie vandag besig is met die proses nie. As jy dag tot dag doelloos voortstrompel is dit dalk tyd om vinnig van bouer te verander.