Dink voor jy praat

zelda 714b0

Daar skort iets met katte se sin van rigting. Kenners besing katte se ore, oë en lyf. Hulle kan ‘n muis hoor nog voor hulle dit kan sien. Hulle kan snags ‘n repie maanlig aanwend en so goed sien soos die mens bedags. Hulle kan hulself met gemak opraap en hoog spring. Hulle het nege lewens. Katte land altyd op hulle voete.

Maar die grootste nadeel van katte is dat hulle nie ‘n trurat het nie. Hulle kan nie reverse nie. Hulle kan die hoogste bome bestyg, dakke beklim, maar om duistere redes, nie afkom nie.

Vra vir Zelda. Sy sal daarvan getuig. Haar arm in gips is die bewys. Twee plekke gebreek en ‘n blou kol. Voor jy wonder, sy kan wel “reverse”, maar net as die leer stilstaan. Die kat wat sy van die dak wou afhaal se reverse het nie gewerk nie. Sy het egter die resies terug aarde toe loshande gewen.

So lok hierdie “ge-gipsde” arm konstant reaksie uit waar sy ook mag gaan. Dalk is dit die posissie van die arm en die duim wat daarvoor verantwoordelik is. Jy kan dit verwar as iemand wat permanent probeer duimgooi (na agter) of as sy bereid sou wees om haar oë skeel te trek, suurlemoen te gorrel en tegerlyke tyd haar tong uit te steek, die laaste beweging van die All Black Haka, jy weet die een met die duim wat van links na regs oor hulle kele getrek word as gebaar van hulle intensies met die teenstanders, permanent te probeer naboots.

Jy kry die idee?

Nou verstaan jy hoekom almal heeltyd vra wat hét gebeur? En hoekom ek in die versoeking kom om die Haka beweging luidkeels te demonstreer, of emosieloos aan te kondig dat ons gaan ryloop op deur Afrika en teen die anderkant van die aardbol af gaan terugswem. En Zelda is ons hoof duimgooier op en roeier aan die ander kant af.

Verlede Saterdag vra ‘n dame voor ons in die ry dieselfde vraag of die arm gebreek is en na Zelda se antwoord maak sy ‘n stelling dat Zelda vir die res van haar lewe probleme gaan hê met die arm…

Ek en Zelda kyk na mekaar en verklaar: “Hierdie arm is reeds perfek genees en nee sy sal beslis nie probleme ervaar vir die res van haar lewe nie. “

Woorde van dood gekanselleer.

Johann de Jager (ministriesworldwide.net)

Scroll to Top