Watter verpestelike gedagte was hierdie darem nie vir seker maar die meeste van ons nie. Hier van Grd 8 af het jy geweet daar kom ‘n dag waaroor jy nie veel seggenskap het nie. Jy het altyd stories gehoor by die jonger seuns wat broers gehad het en wat grens toe is. Hierdie was nie iets waarna jy uitgesien het nie, maar jy kon ook nie help om aan al die nostalgie te dink en wat dit vir jou gaan inhou nie. Miskien het jy maar vir jouself probeer “boost” om positief te dink en daardeur jou vrese vir die onbekende te onderdruk.
Gelukkig was ek vir 6 jaar in die koshuis, so die werklikheid van jou ouershuis verlaat was darem nie te sleg nie.
Van orals oor die land het die treine ons kom oplaai. Skielik was ons in ‘n heel ander nuwe wêreld. Vreemde mense, vreemde omgewings en boonop, onbekende bestemmings.
My eerste kennismaking was met die “Dankie-tannies”.
Met ons aankoms het hulle vir ons roomys kom uitskep (“dankie tannie”), hulle het vir ons elkeen ‘n messie gegee (“dankie tannie”), hulle het ons ‘n pen en papier gegee (“dankie tannie”) en dit terwyl die korporaals op ‘n veilige afstand die skouspel (handjies gevou en ewe bedeesd) dopgehou het. Ongelukkig vir ons; toe daai laaste “dankie tannie” se karretjie om die draai verdwyn het, het daar ‘n onheilspellende stilte neergesak.
Sommige troepies het nog aan hulle roomysies gelek, toe al daai “fake” glimlagte van daai ooms se gesigte verdwyn het. Hel het losgebars. Nou het ‘n klomp ongeskikte hardebaarde uit alle windrigtings eweskielik op my begin skreeu. Eerstens, ek het niks verkeerd gedoen nie en tweedens, ek was ook nie doof nie. Ongelukkig het hulle anders gedink. Hulle het duidelik nie dieselfde oortuiging gehad nie. Blykbaar was ons almal ook ongeletterd, hulle het gebare gebruik om presies aan ons te verduidelik wat hulle wou hê ons moes doen. En dan natuurlik het geen pes ‘n idee gehad hoe om te tel of die horlosie te lees nie. Dis nie al nie. Daarby het geeneen van hulle ooit wiskunde op skool gehad nie. Nooit nie – nie in Sub A of in die kleuterskool nie – NIKS nie.
Alles wat ons moes doen moes binne ‘n sekere tyd gebeur, “Troepe julle het 10 sekondes om om daardie boom te hardloop, 5…,6….,7…. beweeg!!!!….en bring vir my ‘n groen blaar saam!”
“Korporaal besef jy daai boom is 7 km vêr en dit het reeds al 5 jaar gelede al gevrek?”
“Push-ups”……….een…twee…drie…drie…drie….vier…vyf….”maaikie” wil nie saamwerk nie, een…. twee…. twee…. drie….”
“Korporaal, ons trek al by 700, nie 7 nie” Of hakkel jy bloot of is dit al weer jou wiskunde wat jou in die steek laat…?
“Watter plaas is hier in jou geweerloop…?”
“Gits korporaal – jy is nogal lekker dof vanoggend nê? Maak net die regte oog oop voordat jy deur die geweerloop probeer kyk!”
Dan het die kleinste korporaals gewoonlik die meeste lawaai gemaak. Ek dink hulle was bang dat van die troepe hulle dalk nie sou raaksien nie, en dan op hulle sou trap…of so iets.
Maar weet jy?, alles het ‘n doel gehad. In enige weermag word jy doelbewus gebreek sodat jy nie op jouself sou staatmaak nie. In ‘n oorlog situasie wou hulle nie hê dat jy moes dink nie, jy moes net reageer en nie wyfel vir ‘n oomblik nie, dit kon jou en jou makkers se lewe kos. Buiten dit het hulle jou ook vertrou met duur en gevaarlike toerusting.
Die seun wat 3 maande tevore ingekom het, het nou plek gemaak vir ‘n selfstandige soldaat, wat bereid was om sy lewe op te offer vir sy naaste.
Dieselfde beginsel geld vir ons as Christene. Hierdie is egter ‘n vrywillige keuse om uit te oefen en om jouself aan te meld. Die wat wel aanmeld, word geleer hoe om te oorleef, en om te leef, hoe om situasies te hanteer. Ons word geleer dat ons wel gereed maak vir oorlog maar ons Bevelvoerder doen al die bakleiery Homself. Ons meld aan as gebroke en sondige mense, maar ons Bevelvoerder verander ons in lewendige en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, Hy maak jou weer lewendig, gee jou ‘n nuwe toekoms, nuwe hoop. Hy sê gereeld dat ons Hom moet ken met al ons probleme, Hy baklei die stryd vir ons, Hy staan in vir alles. Hy beskerm sy troepe in alle omstandighede. Hierdie Bevelvoerder het selfs al Sy lewe afgelê vir die wat nie eers in Sy weermag was nie.
Ongelukkig is daar baie troepe wat sê dat hulle in Sy weermag is, al het hulle bloot die kamp binnegesluip. Van hulle het selfs al die Bevelvoerder ontmoet, maar hulle sit rond in die basiskamp, weier om hulle hare te sny, weermaguniforms aan te trek en of om hulself bereidwillig te verklaar om opleiding te ondergaan. Omrede hulle geen opleinding ondergaan nie, kan hulle ook nêrens aangewend word nie. As die vyand die basis aanval, ontken hulle gou dat hulle deel is van die basiskamp en dan is hulle meer as bereid om die bevele van die vyand te gehoorsaam. Meestal word hulle spioene, met ‘n missie om ander soldate se moraal te breek, gedurig negatiewe opmerkings te maak, met alles fout te vind. Soms plant hulle selfs landmyne in hulle eie kamp.
Ander troepe, het nie net aangemeld nie, maar selfs al opleiding ondergaan en gesien hoedat hulle Bevelvoerder gevegte wen, maar dit is asof hulle net nie kan aanvaar dat dit werklik gebeur nie, as daar ‘n aanval kom gooi hulle hulle arms in die lug en gee oor. Eers wanneer die geveg oor is en hulle sien dat hulle Bevelvoerder wel soos al die vorige geleenthede, die geveg gewen het, laat sak hulle hul wit vlae.
Laastens is daar die ander wat altyd hulle Bevelvoerder in die oog hou. Hulle maak dit hulle lewenstaak om presies te doen wat hulle hulle Bevelvoerder sien doen. As Hy sê skiet dan skiet hulle, as Hy sê staak vuur, dan staak hulle. As Hy sê maak gereed om te vertrek, dan maak hulle gereed. Te alle tye behou hulle kontak met hulle Bevelvoerder, as hulle probleme het, skroom hulle nie om Sy hulp in te roep nie. Hulle gaan voort om op hulle taak te konsentreer, sonder om te peins of die Bevelvoerder wel sy belofte gestand sal doen.
Net een ding is nodig. Meld aan en verklaar jouself bereidwillig. Deur die Bevelvoerder sal jy tot alles in staat wees.
Die keuse is joune !
Johann