“Sweef soos ‘n arend, want Sy liefde dra jou. so hoog, hoog bo die son.” lui die woorde van ‘n liedjie. Inderdaad kan ons so baie leer by die arend. ‘n Arend wag op die regte windstrome voordat hy sy nes sal verlaat. Wanneer hy wel vlieg maak hy gebruik van lugstrome. Hulle sê dat ‘n arend sy kleintjies uit die nes sal skop, net om die kleintjie weer te vang sou hulle nie begin vlieg nie.
Wow !
Ons moet strewe om “Arend” Christene te word. As jy ‘n Christen is wat nog nie God se krag in jou lewe ervaar het nie of dit nie meer ervaar nie, as jy nie kan getuig van wonderwerke waarvan jy ‘n getuie is nie, as jy nie weet van kragtige maniere hoe God rondom jou werk nie, of as jy nog nooit deel was hiervan nie, dan wil ek jou vandag bemoedig en aanspoor om ‘n “Arend” Christen te word. Dalk het jy nodig om van voor af te leer vlieg. Van voor af blindelings op Jesus te begin vertrou vir jou situasie, blindelings en met ‘n hemelse perspektief weer jou dag tot dag aan te pak. Hom in beheer te stel van jou lewe, sodat wanneer jy leer vlieg jy sal besef dat Hy jou nooit sal laat val nie.
Wanneer jy geleer het om op Jesus te vertrou, jy sal begin om te wag op Sy Gees se leiding. Wag op die wind voordat jy summier net begin vlieg in enige rigting. En dan, wanneer God jou lei om te vlieg, om Sy strome (Gees) te volg na waarheen Hy jou wil lei.
Wat help dit as jy buite die wil van God is? Daar is geen maar geen voordeel of nut daaraan verbonde nie. Jy is soos ‘n skip wat deur golwe en wind voortgedryf word. Hoekom voorts ‘n Christen wees as jy nie die lewe wil lei van een nie? Dis soos om voor te gee dat jy ‘n vegetariër is, maar vleis eet, ‘n pianis is maar nie een noot kan speel of nie? Hoekom nie gebruik maak wat God tot jou beskikking stel nie?
Is jy dalk bang? Wel die Satan sal jou dit genoeg probeer wysmaak dat God jou net wil straf en sodra jy jou lewe oorgee jy geen plesier in die lewe meer sal vind nie. Hou op om in die hand van die vyand te speel.
Slaan jou hand aan die ploeg en moenie omkyk nie. Maak die sprong en vertrou. Begin hardloop met mening as die skoot klap, strek uit na wat voor is en maak los van wat na agter is.
Verwag dat God getrou sal wees aan al die beloftes in Sy Woord.
Jy gaan dalk net nodig hê om in hierdie oorgangsperiode blindelings vas te hou en te vertrou, want die Satan sal nie hiermee tevrede wees nie, en hy sal met “mind games” en “mind battles”, alles in sy vermoë doen om jou weer lam te lê keer op keer, maar glo my, as jy hierdeur is sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie!
Johann