Een van my geveerde vriende het na ’n lang afwesigheid weer sy opwagting gemaak. Vir redes wat jy nou-nou sal verstaan, weet ek nie te veel van hom af nie. Ek sien hom net so in die verbygaan. Hy’s nogal vinnig. Ek weet wel dat hy aan die kleinerige kant is. In ‘n poging om hom vir julle te identifiseer het ek die Vrystaatse voëls ge-Google. My soektog was uiters suksesvol, gelukkig is daar nog 473 spesies in die provinsie. My moed het ‘n goeie knou gekry toe die eerste voeltjie in my lys die volgende name het: “Struthio camelus”, alias Struthionidae, of soos ek en jy dié een ken, die volstruis. Nodeloos, dit was die einde van my navorsing…
Die probleem met my geveerde maatjie is sy onverskrokkenheid. Telkemale deur die loop van die dag kom baklei hy in een spesifieke hoek van die venster… teen homself. (Duh!)
In al my pogings het ek al selfs aan die binnekant van die venster, ‘n foto opgesit van ‘n arend. Later het ek dit maar verwyder, nie oor my vreeslose vriend nie, maar oor opmerkings soos “Pa, jy..okei?” en dan die agterdogtige-ontledende-gefronsde kyke in my dogters se oë.
Nou kan ek myself al indink as hy so na 5 rondtes van baklei uiteindelik terugvlieg na sy nes en sy ondersteuningspan vir hom inwag met ‘n natlappie, waterbotteltjie, handdoekie en ‘n spoegbakkie.
“So, hoe was dit?”
“Jong, daai ander voël is tough my ou maat!”
“Kon jy darem ‘n paar goeie houe inkry?”
“Dis juis die ding, hoe harder en vinniger ek pik, hoe harder en vinniger pik daai mannetjie terug… en die snaakste is, hy het ‘n halwe arend saamgebring. Maar hy is nou vir jou eers useless. Hy sit net daar en kyk met sulke groot oë. Hy verroer nie ‘n spier nie. Ek dink hy is baie bang vir my…”
Wel, deesdae is die geveg redelik kort, as hy sy eerste “hou” uitdeel, dan roer ek net die blindings, en dis gewoonlik die einde van die geveg. Ek weet nie watter verskoning hy gebruik terug by die huis nie. Waarskynlik glo hulle hom nie. Hy is dan die champ!.
Baklei ons nie maar self soms so onnodig nie? Daai een ding wat jy maar net nie wil laat los nie. Dit bring jou geen vreugde nie, dit versuur eintlik net jou dag.
Maak dan los van wat agter is en strek uit na wat voor is, staan daar in die Bybel. Dis eenvoudig, hoe meer jy gaan toelaat dat goed jou aandag aftrek en jou lewe versuur hoe langer gaan jy vat om werklik te lewe in die volheid wat Vader vir jou bestem het.
Vader, ek bely my eie swakheid, dit wat my tog so kan vashou en verhoed om voluit te lewe. Dankie dat ek na U kan draai, dankie dat ek op U genade kan staatmaak, so onverdiend. U het reeds die prys betaal sodat ek in U volheid kan lewe, help my asb. Amen
Johann de Jager (ministriesworldwide.net)