Ek glo in God – dit maak van my ‘n Christen

Jesus_n_radikale_sprong

Mense sê hulle glo in God. Dit maak dan van hulle Christene, reg ? Die Bybel sê die Duiwel en sy tjommies (demone) glo ook, nou hoe dan nou?

Die Bybel gaan verder deur te sê, hulle glo nie net ook nie, maar hulle sidder. (In ons aangepaste taal, hulle kry die shakes, ritteltits, kap ‘n depro ens).

Hoekom?  – want hulle weet wat hulle lot gaan wees. Hulle het God se teenwoordigheid al beleef, hulle sien wat God doen elke dag. Die Duiwel is derhalwe ook gelowig!

Kan ek dan die vraag vra:

  • Om net aan Jesus te glo, is dit genoeg?
  • Is glo aan God al wat ons nodig het om as “Christen” te lewe?   Indien nie, wat is dan ook nodig?
  • Waar pas “glo” dan in?

Kan ek regtig staatmaak op slegs “glo” ?

Nee ons kan nie. Dit laat my aan die storie dink waar ‘n tannie ‘n “reverend” aangevat het oor hierdie onderwerp dat glo genoeg is om ‘n Christen te wees.

Sy antwoord aan haar was :

“Beteken dit as iemand aan kommunisme glo dit van hom ‘n kommunis maak?” – “Ja” was haar antwoord.

“Beteken dit dat indien iemand aan Hindoeïsme (hoop die spelling is reg) glo maak dit van hom ‘n Hindoe?” – “Ja” was haar antwoord.

“So as iemand aan Jesus glo, maak dit van hom ‘n Christen?” – “Ja” was haar antwoord.

“Dan beteken dit” sê hy, “as iemand aan die huwelik glo, kan ek nou verklaar dat hy getroud is?”

Om Christen te wees is soveel meer as net die glo in Hom. Dit is ‘n lewe om onder Sy heerskappy te kom (wat exciting is!).

As ek jou vra is die hemel ‘n lekker plek, sal jy waarskynlik sê “Ja”. Wel die Here sê, hy wil nou al vir jou die hemel op aarde gee. Lekker nê?

Wat beteken dit? Jesus wil nou al jou lewe inrig sodat jy nie meer bekommernisse het nie, Hy wil nou al hê dat jy nie meer sal stres nie.

Verbeel jou (eintlik sleg om te sê verbeel jou – probeer dit indink – sjoe!) dat jy elke aand gaan slaap en jy het vrede, jy is worry-vry.

Jy sien uit na more. Jy het nie probleme nie. Vandag was fantasties. Jy hoef nie jou gedagtes af te lei nie om nie op jou senuwees te raak oor ‘n issue nie.  Jy is vergenoegd. In jou verhouding met iemand is daar geen konflik nie. Jy is nie negatief nie, jy is nie pessimisties nie, jy lewe man! (Wow, kan dit lekker wees? Vir seker! Wag ek het nog iets. Wat daarvan dat alles waarvoor jy vra kry jy?

Klink dit of ek die name-it-and-claim-it beginsel toepas? Nee, ek verwys maar net na dit wat ek al in die Bybel gelees het en wat ek weet waar is.)

Daar is niks wat jou jaag nie. (wat jaag jou nou daar waar jy sit – wat wil jou nie los nie?) Luister mooi en moet nie verder lees voordat jy nie eers stilgestaan het by hierdie gedagte nie!

Wat jaag jou?

Jy “suffer” so in stilte, so ‘n lekker glimlag, maar aan die binnekant is jy stukkend. Jesus sien dit raak en Hy weet daarvan beter as enige iemand anders.

Al wat jy nodig het is om Hom deel te maak daarvan, om hierdie vir Hom te kan gee. Jesus is al wat jy nodig het, om Sy genesing te ervaar en Sy vrymaking te beleef, en te LEWE.

Die Woord sê in Romeine 10:9-11 “Elkeen wat in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie”. Hierdie geloof is nie net glo nie, want hierdie gedeelte sê ook as volg. “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word. Want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot verlossing.

Want die skrif sê; Elkeen wat in Hom glo sal nie beskaamd (teleurgestel) word nie.” Vers 13. “Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”

As jy smag na dit wat ek hiebo genoem het dan sê Jesus nou vir jou “As iemand (jy) dors het, laat hom na My toe kom en drink!. Hy wat in My glo, soos die skrif sê, “strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” – Johannes 7: 37-38

As jy nog nie lewe nie – maak daardie keuse vandag.

Johann
Scroll to Top