“Gaan jy met hom praat of ek?” Ek sit ‘n hanetree van die dokter en die suster af. Hulle staan met hulle rûe na my en hulle skinder van my.
“Rede vir u besoek, Mnr de Jager?” Ek en my jongste, Jonè, staan en kyk vir mekaar. “U’s gestuur vir ‘n medies?” “Nee nie eintlik nie” antwoord ek. “My vrou het die afspraak gemaak en ons in kennis gestel dat ons hier moet wees” Die grappie gaan nie te goed af nie.
“Waarvoor wil u alles laat toets?” brom die sersant voort. “‘n Jaarlikse ondersoek, insluitende ‘n EKG.” sê ek soos ‘n stout seuntjie, ken op my bors, hande agter my rug en met my tone trek ek denkbeeldige kringetjies op die teels. (Jonè kan haar glimlag nie meer wegsteek nie)
“En sy?”
“Presies dieselfde” sê ek sonder om op te kyk.
Die sersant-majoor kom haal ons. Ons word “gefast-track”. Jonè word na ‘n aantrekkamer geneem, ek, word ‘n plastiek bekertjie in die hand gestop.
“Daar’s die badkamer, ek soek ‘n urine-monster, sit dit hier en kom deur” Ek besef dadelik daar’s moeilikheid. Dit wat sy wil hê is nie meer beskikbaar nie. Dit was, maar dis tien minute gelede. As ek skoon water gebruik, mag hulle my dalk direk in ongevalle opneem met drups orals in my lyf. As ek die chemikalië op die rak gebruik, kan wie weet wat dan kan gebeur. Al wat oorbly was om vir daardie tannie haar “sample” te gee en nie te “hum en te ha” nie.
OK, volgende is die skaal…sy sê ek kan maar my plakkies aanhou, ek bewys haar vinnig verkeerd toe ek op die skaal klim en sy sien my plakkies weeg ‘n volle 10 kg.
Toe my lengte geneem moet word, verdiep my probleme. Pleks dat ek my plakkies aanhou, staan hulle onder die stoel op aandag toe ek onder die balkie inbeweeg. Sy meet my ‘n volle 3cm korter as wat ek wil wees. Herhinneringe dat mens korter word met ouderdom teister my vir 15 sekondes. Ek weeg nie net meer nie, maar ek is sowaar korter ook. Dis ‘n resep vir chaos!
EKG is volgende. Toe sersant-majoor skeermes lemmetjies uithaal, sê ek vir myself; “Hier’s groot moeilikheid pêl!”
Kan jouself voorstel hoe sieklik ek moet lyk met skoon kolle op my borskas. Ek voel soos ‘n Cheetah wat die Curriebeker verloor het. Sy plak hope goed op my, koppel drade “all over” en gebied dat ek moet ontspan. Sy babbel voort en vra vrae, maar ek, ek moet ontspan? Saaklik, knip ek net instemmend met opgetrekde wenkbroue.
Eintlik is sy klaar. Dit voel of seekatte my beetgekry het. Versigtig probeer ek die plakkers verwyder, maar hierdie manne bedoel besigheid. “Moet ek jou help?” My frons is genoeg om haar te antwoord. “Giiirrp” pluk ek die eerste van tien plakkers af…saam met ‘n klomp borshare…
“Alles lyk uitstekend” sê die dokter later in sy spreekkamer, “behalwe” (Daai verpeslike plakkies…)
Hy haal ‘n ronde plastiek meetstel uit. Skuif die plastiekskyfies oormekaar en gee dit vir my aan sonder om te veel te praat. “Jou BMI moet…” hoor ek hom dofweg praat in die agtergrond. Ek fokus op die plastiekskyfie. “Is die ding nie dalk stukkend nie?” vra ek. Simpatiek kyk hy na my en skud sy kop, “Nee, maar doen iets daaraan, net vir jouself en niemand anders nie.”
Al die ander goeie resultate word tot niet gemaak met slegs een aspek wat nie onder beheer is nie.
Sonde is presies dieselfde. Een enkele aspek wat nie onder beheer is nie, kan my verhouding met Jesus beinvloed ten spyte van soveel wat ek reg doen. Moenie verder in die modder voortploeter nie, jy’s bestem vir soveel meer. Jesus wil jou optel, reinig en jou weer in ‘n heilige verhouding met Hom bring.
Johann