Ons TV-kyktyd word deesdae letterlik oorgeneem deur “realiteits”-programme. As dit nie is vir iemand wat ‘n Idol wil word, of ‘n model, kitsmiljoenêr, of ‘n kamma dit of dat nie, gaan laai hulle ‘n spul ouens af op ‘n eiland en kyk wie kan oorleef.
My kinders sit natuurlik vasgenael voor die Tv soos muggies teen ‘n motor se voorruit. Die probleem van hierdie realiteitsprogramme is dat elke nuwe idee wat uitgedink word, die ander programme moet verbeter. Wat nogal interessant is, is die ongeskiktheid van die beoordeellaars of die aanbieders. Dit wil vir my voorkom hoe meer ongenaakbaar en ongeskik die mense raak hoe meer kykers word gelok. Sonder enige seremonie word verloorders dan ook summier weggewys (eintlik wil ek sê weggejaag!)
Ek dank die Here dat in ons realiteits-lewe daar geen verloorders by Hom is nie. Hy smag daarna om aan elkeen die oorwinnaarskroon te gee, die ewige lewe. Niemand word ooit deur Hom weggewys of “afgeskop” nie. Inteendeel, Hy het reeds die prys betaal.
Jesus nooi jou ook vir ‘n oudisie vandag met die waarborg dat jy dit sal maak—glo net in Hom.